‘n Kersmaal berei in Kersfeesgees

0
217
Ds. Stephan van Heerden

Christene oor die wêreld heen herdenk Jesus Christus se geboorte op 25 Desember. Daarmee saam is dit ‘n tyd van samesyn en smullekker- tradisionele Kersgeregte wat opgedis word. Maar wat beteken Kersfees vir Christene en waarom is ‘n feestafel sinoniem met dié spesiale dag?
‘n Leraar aan die NG kerk Bloemfontein-Noord (Klipkerk), Stephan van Heerden, sê vir Christene is Kersfees ‘n Christusfees. Dit is ook ‘n jubel- en familiefees. Hy sê Christene straal blydskap en dankbaarheid uit op dié dag deur saam met geliefdes te kuier en natuurlik vir ‘n feesmaal aan te sit.
In die Bybel word gesê as mense saam eet en feesvier, gee hulle vir mekaar om. Dit is ook die boodskap wat deur Kersfees oorgedra word.
Hy sê Jesus Christus se geboortedag was nie spesifiek op 25 Desember nie. Dié datum is eeue gelede deur die Kerk aanvaar as die dag waarop Sy geboorte herdenk word.
Daar is toe met feeste begin om Christus se geboortedag te vier. Smulkos en geskenke het toe deel hiervan geword.
Van Heerden sê Jesus se geboorte in ‘n stal in Bethlehem straal ‘n prentjie van eenvoud uit. Die boodskap van Kersfees is om in eenvoud saam met mekaar fees te vier. Dit gaan nie oor hoe groot of duur ‘n maaltyd is nie. Dit gaan oor die samesyn en dankbaarheid vir Sy geboorte.
‘n Gemeentelid van die Klipkerk en ‘n staatmaker in die kombuis, Christelle van Niekerk, sê in ekonomies uitdagende tye het hul familie besluit om jaarliks saam te span en ‘n verskeidenheid kosse voor te sit. Sy sê elkeen moet ‘n spesiale gereg vir hul gesamentlike Kerstafel voorberei.

Christelle van Niekerk
Christelle van Niekerk

Kersfees is sonnig en warm in Suid-Afrika en daarom is koue vleisgeregte en slaaie altyd ‘n wenner, sê sy. “Ons probeer ook braai om die manne besig te hou.” Hoendervlerkies en -boudjies word oor die kole gegooi terwyl die vroue hulself besig hou met die sny van gaar lamsboud, ham en heerlike pastrami’s. Saam met dié verskeidenheid vleisgeregte is uitpakslaaie ook gewild en is dit dalk heel van pas by vir Christusfees, veral as produkte gebruik word wat destyds beskikbaar was. Aspersies, olywe, vye, pere en ingevoerde dadels kan gebruik word. Die kossoorte gryp terug na die Bybelse tyd.
Daar moet natuurlik ook iets soets voorgesit word en wat is nou beter as ‘n koekstruif, oftewel trifle. Sy sê hul ouma Van Niekerk se vingerlekker-resep kom al jare in dié familie. Van kleins af moes kinders help met die voorbereiding van die nagereg. Jellie, vla en vingerkoekies is van die
bestanddele wat gebruik
word, maar daar is ‘n geheime bestanddeel wat ouma Van Niekerk se resep spesiaal maak – die vingerkoekies moet vooraf swem in die sjerrie. Daar moet ook neute bygevoeg word sodat die mans nie vergaan van die baie soetigheid nie.
Maryke van Niekerk, ook van die Klipkerk, sê die Christusfees is vir haar en haar geliefdes ‘n spesiale dag.

Maryke van Niekerk
Maryke van Niekerk

Hulle woon die oggend se Kersdiens by. “Dit is nommer een op die lys.” Daarna smul hulle heerlik saam en skeep hulself as ‘n kleiner familie beslis nie af nie.” Sy sê daar is nie noodwendig altyd skaapboud op die spyskaart nie, maar ‘n heerlike tonggereg wat vooraf voorberei kan word, word nie sommer weggelaat nie. Gebraaide hoender is ook ‘n staatmaker.
Hul disse is tradisioneel met ‘n verskeidenheid van koue en warm kos wat afgewissel word. Verlede jaar het die Van Niekerks op ‘n smaaklike hoenderslaai as voorgereg besluit. Dié slaai is ook heerlik en kan saam met die hoofgereg bedien word.
Sy sê ‘n koue nagereg is verfrissend, eerder as warm nageregte. Dit is in Suid-Afrika té warm vir malva-poeding. Vrugtekoek, wat lank voor die tyd voorberei word, is ‘n moet. ‘n Kersete gaan ook goed af saam met ‘n glasie wyn. Sy sê Suid-Afrika het ‘n goeie en groot verskeidenheid wyn en diegene wat nie drank verkies nie, kan vars vrugtesap drink.
‘n Goeie Kersmaal saam met geliefdes is ‘n voorreg, en die samesyn en welwillendheid is wat ‘n mens bybly van dié wonderlike dag. – Christal-lize Muller
christal-lize@centralmediagroup.co.za