Motiveer mekaar – 1 September 2016

0
470

Dié tyd van die jaar begin ons ywer en energie so bietjie taan. Die wil om meer as ons deel te doen is elke dag dalk bietjie minder, en dit is asof die naderende lente ons meer motiveer om vakansie in Namakwaland te gaan hou as om in die werkhok van die lewe voluit ons deel te doen. Ons soek na ‘n motiveerder vir ons bestaan. Ek het ‘n bietjie nagedink oor die begrip motiveerder en besef dit beteken om “iemand te laat glo dat dit wat hy doen ‘n verskil kan maak”. Dit is om iemand te help om elke dag die nuwe moontlikhede wat in hom of haar opgesluit is, te “omarm” en ‘n verskil te maak in ‘n ietwat holderstebolder soort van ‘n lewe. Wanneer God se Gees my en jou hart aanraak, kan dit nie anders nie as dat dit jou en my lewensuitkyk, lewenshouding en lewenstyl verander nie. Dit bring ‘n motivering en ‘n passie om vanuit die oorvloed gawes wat Hy vir jou en my gee, voluit te leef. Hy word ons motiveerder, sodat ons mekaar weer kan motiveer!
Ds. Stephan van Heerden