Moments 2017 gaan vol onvergeetlike oomblikke wees

0
642
Jannie Moolman en Corlea Botha, twee van die Moments-skouspel se hoofattraksies.

Volgens alle aanduidings gaan Moments 2017 geen tekort hê aan onvergeetlike oomblikke nie.
As mens net luister na Corlea Botha, een van die hoofattraksies, gaan dié musiekskouspel vanjaar groter én beter wees. Moments is verlede jaar die eerste keer in Bloemfontein aangebied.
“Ek is ongelooflik opgewonde om weer deel van Moments te wees. Ek sien veral uit daarna om saam met my geliefde vriend, Jannie Moolman, op te tree. Ons kom al ‘n lang pad saam en wil met dié optrede die gehoor op ‘n onvergeetlike musikale reis neem.”
Benewens Corlea en Jannie, kan die gehoor ook uitsien na ander bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Sonja Herholdt, Jennifer Jones en Ella Kotze. Hulle sal ondersteun word deur onder meer die Willie Venter-dansers, die Bloemfontein-kinderkoor en die St. Michaels-skoolkoor.
‘n Ander deelnemer aan die skouspel oor wie Corlea nie uitgepraat kan raak nie, is die dansgroep On-Que.
“Ek kan jou nie sê hoe bly ek is dat On-Que daar gaan wees nie. Hulle het ‘n groep ongelooflike dansers wat ‘n heel nuwe dimensie aan die vertoning gaan gee. Ek kry skoon hoendervleis elke keer as ek hulle sien optree.”
Die skouspel word op Vrydag 12 en Saterdag
13 Mei in die Sand du Plessis-teater aangebied. Kaartjies vir die vertoning, wat om 19:30 begin, is by Pacofs beskikbaar. Skakel 051-447-7772 vir besprekings.
Corlea is ook vol lof vir die Bloemfonteinse gehore, die organiseerders asook die Sand du Plessis-teater.
“My bewondering vir die organiseerders is onbeskryflik. Hulle besef dit dalk nie, maar dit is baanbrekerswerk wat hulle met die Moments-konsert doen. Dan wil ek nie eers eers praat van die Bloemfonteinse gehore nie. Hulle is die lewendigste en mees waarderende gehore voor wie ek nog opgetree het.”
Die TV-persoonlikheid, Elize Cupido, wat verlede jaar vir die kontinuïteit by die skouspel gesorg het, is weer vanjaar die aanbieder.
Corlea se Bloemfonteinse aanhangers kan daarna uitsien om al hul gunsteling-liedjies by die skouspel te hoor.
“Ek gaan wel een of twee nuwe liedjies doen, maar die meeste liedjies gaan bekendes wees waaroor ek weet gehore mal is,” sê sy.
Moments 2017 word deur Absa ondersteun. – Pieter Delport
pieterd@mahareng.co.za