Migreer soos Brangelina na Swakop se son, sand en see

0
988
Een van Pelican Point-robkolonie se robbe pronk pragtig in die water vir toeriste. FOTO: MARICELLE BOTHA

Tone in die sand, ‘n heerlike koue bier en reuse-branders van die Benguela-seestroom wat teen die rotse breek – klink dit idillies? Die afgelope week se bibberkoue wat Suid-Afrikaners beleef het, het menige van ons laat dink dat die migrasiepatrone van voëls al hoe meer na ‘n goeie opsie lyk. Wat is dan nou lekkerder as om in die Vrystaatse winter na ‘n warmer gebied te migreer waar son, see en onvoorwaardelike vriendelikheid jou verwelkom?

Welkom in Swakopmund. FOTO: MARICELLE BOTHA
Welkom in Swakopmund. FOTO: MARICELLE BOTHA

Welkom in Namibië – ‘n bekostigbare reisbestemming waar jy jou eie taal kan praat, die wisselkoers jou nie keelafsny nie, en jy geen visum nodig het nie. Lesers kan oor die volgende vier weke Bloemfontein Courant volg om ‘n blik van Namibië se skoonheid te kry.
Die Namibiese weskus is een wat jaarliks veral Suid-Afrikaanse hengelaars lok, maar sedert die geboorte van Brad Pitt en Angelina Jolie se dogter, Shiloh, in Swakopmund in 2006, het veral plekke soos Langstrand tussen Walvisbaai en Swakopmund baie eksklusief geraak. Selfs president Hage Geingob hou hier vakansie.

Gebou in 1901 as die Landdroshof, is hierdie gebou omgeskakel in 'n woning vi rdie president. FOTO: MARICELLE BOTHA
Gebou in 1901 as die Landdroshof, is nou omskep in ‘n woning vi rdie president. FOTO: MARICELLE BOTHA

Die twee en ‘n halfuur lange vlug van Johannesburg tot in Walvisbaai met Air Namibia is ideaal vir besoekers wat selfs vir ‘n langnaweek hierdie deel van die land wil besoek.
Op Walvisbaai se lughawe kan jy maklik ‘n motor huur en indien jy van ‘n toergids gebruik wou maak, is dit maklik vir hom om jou sommer by die lughawe te ontmoet.
Hoewel Walvisbaai die groter stad in die streek is, bied Swakopmund ‘n bekoring wat beslis jou hart sal steel, daarom stel ons voor dat jy hier tuisgaan en van hier af die omgewing verken.

Gaan proe van Brewer & Butcher se eie bier.
Gaan proe van Brewer & Butcher se eie bier. FOTO: MARICELLE BOTHA

Swakopmund is ‘n strandoord met talle voorbeelde van die Duitse koloniale argitektuur. Die dorp is in 1892 gevestig as die belangrikste hawe vir die eertydse Duitswes-Afrika, en ‘n klein deel van die dorp se inwoners is vandag steeds Duitssprekend.
Stap jy deur die dorp, kan jy jou vir ure verkyk aan die Duitse invloed soos die gewilde Swakopmund Brauhaus, versier met ware Bavaria-dekor en ‘n spyskaart wat spog met van die gewildste Duitse geregte.

Swakop se bekende kaai, Jetty 1905. FOTO'S: MARICELLE BOTHA
Swakop se bekende kaai, Jetty 1905. FOTO’S: MARICELLE BOTHA

Bederf jouself deur een oggend vroeg op te staan en langs die strand af te stap tot by Swakop se bekende kaai. Die kaai (jetty) is in 1905 klaar gebou met die doel om vragte makliker van skepe af te laai. Die jetty is in die Eerste Wêreldoorlog gedeeltelik deur die Engelse verwoes.

Lady Gaga, 'n parmantige pelikaan, druk haar geel bek deur die boot se dak op soek na 'n verlore stukkie vis. FOTO: MARICELLE BOTHA
Lady Gaga, ‘n parmantige pelikaan, druk haar geel bek deur die boot se dak op soek na ‘n verlore stukkie vis. FOTO: MARICELLE BOTHA

As die weer dit toelaat, bring ‘n oggend deur in die baai van Walvisbaai. Mola Mola is een van die talle toeroperateurs wat besoekers deur die hawe neem. Dit is nie slegs die vriendelikheid en kennis van die bemanning wat beïndruk nie, maar ook die ander inwoners wat self ‘n draai op die boot kom maak. Kamachoma is een van die baai se robbe wat besoekers sommer gou-gou begroet as hy op die boot spring, ‘n entjie saamry, pronk vir foto’s en natuurlik ‘n maklike happie kom haal. ‘n Ander besoeker is Lady Gaga, ‘n parmantige pelikaan wat haar lang, geel bek sommer deur die boot se dak druk op soek na ‘n verlore stukkie vis. En as jy nie vinnig genoeg reageer nie, swaai juffrou haar groot pienk boude deur die besoekers en gaan kry self ‘n happie by gids en skipper, Isabelle Horlbeck-Bellwinkel

Die robkolonie op Pelican Point
Die robkolonie op Pelican Point. FOTO: MARICELLE BOTHA

Behalwe vir die robkolonie op Pelican Point en die vrolikheid van die hordes robbe hier, is van die ander hoogtepunte op die bootrit die pragtige gesig dolfyne en die besoek aan Walvisbaai se bekende oesterplase – natuurlik kry jy darem die geleentheid om te proe ook. Tussen agt en tien miljoen oesters lê op ‘n slag in die baai. Die koue water van die Benguela-seestroom wat hier verbyloop, maak hierdie plek geskik vir die kweek van oesters. Omdat die oesters skoon moet bly, word dit in mandjies gekweek wat tussen twee dromme hang. Hierdie miljoene oesters word elke ses weke skoongemaak en dan weer terug in die water geplaas.
Dit neem sowat agt tot nege maande in ‘n plek soos Frankryk vir oesters om te groei tot eetbare grootte, maar met die geweldige voedingswaarde in Walvisbaai se water, neem dit slegs drie tot vier maande.

Miljoene oesters word elke ses weke op 'n gestrande skip skoongemaak en dan weer terug in die water geplaas. FOTO: MARICELLE BOTHA
Miljoene oesters word elke ses weke op ‘n gestrande skip skoongemaak en dan weer terug in die water geplaas. FOTO: MARICELLE BOTHA

Dan is daar min dinge so asemrowend soos ‘n sonsondergang tussen die duine. Daarom moet jy beslis nie die kans laat verbygaan om met ‘n vierwielmotorfiets Swakop se duine te verken nie. Trek jou laatmiddag lekker warm aan en gaan op ‘n duintoer saam met Dare Devil Adventures. Vir adrenaliensoekers is daar meer as genoeg uitdagende duine om teen af te jaag. Indien jy besluit om per vierwielmotorfiets Swakop se bekende Duin 7 te besoek, sal jy jouself ten minste vyf ure moet gun.

Daar is min dinge so asemrowend soos 'n sonsondergang agter die duine.
Daar is min dinge so asemrowend soos ‘n sonsondergang agter die duine.

Reis volgende week saam deur die Namib-woestyn tot by Sossusvlei. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

Bruikbare Nuus

Wat om te doen:

Besoek die maanlandskap, sowat 30 km van Swakopmund. Dié gebied staan bekend as die Moon Landscape. Die Swakoprivier het miljoene jare gelede hier diep canyons in die granietrots uitgeslyp,wat ’n asemrowende landskap tot gevolg gehad het.

Verken die woestyn op die rug van ’n kameel.

Gaan braai en slaap in die Namibwoestyn.

Vang vis.

Geniet vlieërbranderplankry.

Gaan vaar met ’n kajak.

 

Waar om te bly:

Strand Hotel Swakopmund – pure luuksheid omring deur ’n aantal restaurante om van te kies. Die hotel se Atlantic Spa is ’n droom en sal sorg dat jy van die laaste bietjie spanning in jou lyf ontslae raak. (Martin.Wiemers@ol.na / http://www.strandhotelswakopmund.com/)

Waar om te eet:

Ocean Cellar – hier kan jy oesters in enige vorm en geur kry, en dit sal ’n sonde wees as jy jou nie in Swakop en Walvisbaai ooreet aan oesters nie.

Brewer & Butcher – ’n Moderne weergawe van ’n tradisionele brauhaus met sy eie bierbrouery en Duitse geregte soos Eisbein.

Farmhouse Deli – heerlike ontbyte met Duits geïnspireerde gebak en kouevleise.

Maak seker jy eet genoeg oesters!
Maak seker jy eet genoeg oesters! FOTO: MARICELLE BOTHA

Handige nommers:

Mola Mola Tours (Boat Cruise)- (info@mola-namibia.com / http://www.mola-namibia.com/)

Dare Devil Adventures (Quadbiking) – (daredev@iway.na / http://daredeviladventures.com/)

Impala Tours –  http://www.impalatours.com/

Vir meer inligting besoek www.namibiatourism.com.na.

ntblogo