Mans hoor gou lot in Swanepoel-moordverhoor

0
366

Drie mans, wat daarvan verdink word dat hulle die bejaarde Swanepoel-egpaar van Bainsvlei in Januarie 2015 vermoor het, hoor hul lot dié week. Fana Ntshedi, Motsamai Bitterbos en Jackie Louw, almal van Bainsvlei, staan tereg op twee aanklagte van moord, twee van ontvoering asook klagte rakende huisbraak, roof met verswarende omstandighede en oortreding van die Vuurwapenwet. Toon Swanepoel, 72, en sy vrou Rienie, 70, is op Sondag 11 Januarie 2015 by hul huis oorval, beroof en na bewering gemartel en vermoor.

Die Vrystaatse Hooggeregshof het die afgelope week gehoor die staat het tydens die verhoor verdoemende bewyse en getuienis teen die drie mans by die hof ingedien. Staatsaanklaer, Amanda Bester, het gesê Ntshedi word met die moordtoneel verbind deur ‘n voetspoor, ‘n vingerafdruk en ‘n sokkie wat op die toneel gevind is.
Die staat beweer Bitterbos word met die misdade verbind deurdat die slagoffers se bakkie in sy besit gevind is, asook weens ‘n voetspoor op die toneel. ‘n Vuurwapen, wat aan een van die slagoffers behoort het, is in die bakkie gevind, terwyl verdere artikels met Louw, die derde verdagte, se DNA daarop gevind is. Bester het geargumenteer dat dit oorweldigende getuienis teen Bitterbos is.
Die staat het ook geargumenteer dat die bewyse teen Louw oorweldigend is. Louw word met die slagoffers verbind deur ‘n voetspoor, DNA op twee verskillende plekke, asook die feit dat hy saam met Bitterbos met die bakkie betrap is.
Ntshedi se regshulp, Oupa Makhene, het betoog dat Ntshedi ontken het dat hy op die moordtoneel was, maar eerder by ‘n inisiasieskool was. Makhene het seker tegniese punte betwyfel, soos uitwysings wat na bewering deur Ntshedi gedoen is, asook die feit of sy regte behoorlik aan hom verduidelik is.
Makhene, wat ook namens Bitterbos opgetree het, het dié se weergawe dat hy op die verlate bakkie langs die pad afgekom het en dit na Swanepoel, wat hy geken het, wou terugneem, voor die hof herbevestig. Toe hy hulle nie by die huis gekry het nie, wou hy polisiestasie toe om die verlate bakkie te rapporteer. Hy is egter op pad deur die polisie gestop en in hegtenis geneem vir redes wat “hy nie weet nie”. Makhene het die hof versoek om te kyk of Bitterbos se weergawe nie moontlik redelik waar kon wees nie.
Louw se regshulp, Peter van der Merwe, het Louw se weergawe ook voor die hof herbevestig; dat hy glad nie betrokke was nie en die hele naweek by die huis was waar hy gearresteer is. Van der Merwe het tydens sy betoog ook twyfel geplaas op beweerde uitwysings wat aan die polisie gemaak is en dit beskryf as “growwe nalatigheid”. Hy het die hof ook gevra om te bepaal of Louw se weergawe ook moontlik waar kan wees.
Die saak is tot Donderdag 22 September uitgestel vir uitspraak. – André Grobler
andreg@centralmediagroup.co.za