Mangaung-water was bruin, maar nie besmet nie

0
158

Verskeie inwoners van die Mangaung-metro was verlede week huiwerig om kraanwater te gebruik, na gerugte die ronde gedoen het dat drinkwater in sommige dele van Bloemfontein met E.coli-bakterieë besmet is.

DA-raadslid en waterkenner, Rossouw Botes, sê die onsekerheid oor die watergehalte kom nadat sommige huise in die metro vir bykans ‘n dag sonder water moes klaarkom. Lae waterdruk uit krane het ook voorgekom.

Botes sê kraanwater het ook ‘n bruin skynsel gehad. Dié kleur kan op hoë mangaanvlakke en ‘n tekort aan yster in die water dui.

Hy sê die probleem het ontstaan nadat die Brandkop-reservoir, die grootste in die metro, se watervlak laag was weens ‘n probleem met die onttrekking van onverwerkte water uit die Caledonrivier. Geen water is vir bykans ‘n dag na dié reservoir gepomp nie, terwyl waterverbruik toegeneem het.

Bekommerde inwoners het Botes genader. Hy het navraag by die metro gedoen wat hom verseker het dat die vereiste watertoetse uitgevoer is.

Watermonsters is onttrek en in ‘n laboratorium ontleed. Hy sê die uitslag van die watertoetse was nie volledig en op standaard, soos voorheen nie. Weens die ekstra toediening van chemikalieë was die tellings van die water wat in toetse daarna uitgevoer is, op standaard. Volgens hom is daar sedertdien geen probleem met die gehalte van water nie.

Woordvoerder van die Mangaung-metro, Qondile Khedama, het vanoggend bevestig dat die water nie met E.coli-bakterieë besmet was nie. Hy sê die Departement van Water en Sanitasie in die Vrystaat en Bloemwater, in samewerking met die metro, het onmiddellik watertoetse deur kundiges laat uitvoer ná gerugte van die besmette drinkwater.

Christal-Lize Muller/Courant-nuus