Mangaung spog met nuwe brandweerwaens

0
377
Die Mangaung Metro-brandweerdiens se splinternuwe 'vuurwa'. FOTO: ANDRÉ GROBLER

Mangaung Metro se brandweerdiens spog met twee blinknuwe brandweerwaens en twee -watertenks wat einde verlede week in gebruik geneem is.
Afdelingsoffisier van Mangaung se brandweerdiens, Braam van Zyl, sê die brandweerwaens is Suid-Afrikaans vervaardigde Marce Mercedes-Benz-voertuie.
Die waens is om die helfte toegerus met reddingstoerusting vir noodtoestande (bv. Jaws of Life) en brandbestyding.
Die waens is ook toegerus met Ziegler- sentrifugale pompe wat 4000 liter water per minuut kan lewer deur die dek-monitor en brandslange. Van Zyl sê 4000 liter water per minuut beteken ‘n massa van 4000kg per minuut wat op ‘n brandoppervlakte geplaas kan word. Hy sê wanneer water dus in ‘n gebou of skepe gepomp word, moet daar fyn bereken word hoe lank die gebou of skip in staat sal wees om die gewig te hanteer. Die brandweerwaens hou elk 3000 liter water en 300 liter skuim.
“Dit is dus belangrik dat die voertuig met aankoms by die brand so gou moontlik aan ‘n brandkaan gekoppel moet word. Indien ‘n brandkraan nie beskikbaar is nie, maak ons gebruik van ons watertenks.”
Van Zyl sê die brandweerdiens beskik nou oor vier brandweerwatertenks waarvan twee onlangs aangekoop is.
Die tenks hou 10 000 liter water elk en is ontwerp om die inhoud binne drie minute in ‘n opslaandam uit te gooi, waarná die voertuig weer kan vertrek om met water aangevul te word.
Van Zyl sê baie navorsing word tans gedoen om hoëdrukpompe te bou wat ‘n bietjie water onder groot druk kan spuit. Die brandweerdiens beskik tans oor waterpompe wat teen 10 000 kPa uitforseer.
“Dit beteken 50 liter water is net so effektief as 500 liter water onder normale omstandighede,” sê Van Zyl. Die krag waarteen die dun waterstraal die spuitstuk verlaat, is in staat om ‘n mens te beseer indien dit jou sou tref. – André Grobler
andreg@centralmediagroup.co.za