Mangaung-rose vir buitengewone bydraes vereer

0
569
Dora du Plessis (tweede plek) en Ans Coetzee, die heel eerste wenner van die Koning en Koningin van Rose-kompetisie. FOTO: MARICELLE BOTHA

Die Mangaung Rosefees en Bloemfontein Courant het vanjaar hul heel eerste Koning en Koningin van Rose-kompetisie tydens die Mangaung Rosefees van stapel gestuur.
Die kompetisie het ten doel gehad om inwoners van die Rosestad vir hul buitengewone bydrae tot die metro en sy mense te erken en te vier.
Ans Coetzee, stigterslid en uitvoerende direkteur van Athalia Uitreik, is tydens die Rose Morning High Tea as Koningin van Rose aangewys.
Athalia Uitreik is op 23 Februarie 2012 gestig toe ‘n klein groepie ouer persone besluit het hulle het genoeg rondgetrek. Hulle wou permanente, veilige huisvesting hê, ‘n toevlugsoord waar hulle kon groei en met waardigheid oud word. Coetzee het by dié groep mense betrokke geraak en die res is geskiedenis, soos hulle sê.
Vandag het Athalia 15 huise met 250 inwoners. Die meeste van dié inwoners is ouer of gestremde persone. “Athalia” beteken “Prys God”. Coetzee vertel dat die organisasie op die oomblik ook huisvesting aan 15 moeders en hul kinders bied.
“Ons oudste inwoner is 96 jaar oud en die jongste 4 jaar. Van ons inwoners word deur hul families afgelaai en ons hoor nooit weer van hulle nie. Ek het ‘n groot passie vir verwaarloosde mense. Natuurlik raak ‘n mens soms moedeloos, maar sodra ek moedeloos raak, seën die Here my weer.” So gesels Coetzee passievol oor die werk wat sy elke dag doen.
Sy vertel toe sy hoor wie die ander finaliste vir die toekenning is, het sy nie gedink sy het ‘n kans nie. “Ek was werklik geskok toe hulle my naam noem. ‘n Mens doen nie wat jy doen om daarvoor geprys te word nie, maar dit is tog lekker om te weet dat ander waardering het vir wat jy doen. Ek hoop volgende jaar word daar sommer nóg meer mense vir die toekenning genomineer. Daar is so baie mense wat goed doen hier in ons gemeenskap en ‘n mens is nie altyd bewus van hulle nie.”
Die tweede plek in die kompetisie word deur Dora du Plessis en Thabo Olivier gedeel.
Du Plessis het self ook al talle mense in die metro aangeraak deur opheffing ten opsigte van selfonderhoudende tuine.
Sy sê dit is vir haar ‘n besonderse voorreg om ander te kan help deur iets wat vir haar ‘n passie is. Du Plessis is ook Bloemfontein se kundige op die gebied van boer met erdwurms en die volhoubare kweek van groentetuine.
Die Qala Tala-inisiatief is Thabo Olivier se passie. Dit behels die groei van hoë-opbrengs-voedseltuine in klein ruimtes. ‘n Vergroeningsprojek wat Olivier in Kutlwanong begin het, sal binnekort ook in die res van die provinsie uitgerol word.
Risna Opperman, organiseerder van die Mangaung Rosefees, sê die doel van die kompetisie is om ‘n man of vrou wat die ekstra myl gestap het om ander in die gemeenskap te help en op te hef, te erken. Sulke mense moet gevier word en hierdie toekenning bied die geleentheid daarvoor. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

Thabo Olivier wat die tweede plek in die Koning en Koningin van Rose-kompetisie met Dora du Plessis deel.
Thabo Olivier wat die tweede plek in die Koning en Koningin van Rose-kompetisie met Dora du Plessis deel.