Luister na Davids vir ‘n bietjie wysheid

0
123
Lauren Davids se boek, The Power and Spirit of Wisdom, is pas vrygestel.

Lauren Davids, ‘n aspirant- jong skrywer, beoog om mense meer te leer oor wysheid in sy boek, The Power and Spirit of Wisdom.
Hy het sowat drie jaar gelede aan die boek begin werk toe hy as pastoor oor sy verhouding met God en hoe dit begin het, wou skryf. “Dit het begin toe ek gekyk het waar ek staan in my persoonlike lewe,” sê Davids.
Hy verwys na Spreuke 1:7: “Die doel van hierdie spreuke is om mense wysheid te leer en hulle te onderrig. Dit sal hulle help om wyse woorde te verstaan.” Davids verduidelik dat die boek meerendeels beklemtoon hoe belangrik kennis is. Hy verwys na Hosea 4:6. “My volk word verwoes omdat hulle My nie ken nie. Omdat jyself dié kennis verwerp het, verwerp Ek jou as my priester.”
“Mense van vandag weet nie meer hoe om besluite te neem nie,” sê Davids.
Hy meen dat wysheid die sleutel tot sukses is in die wêreld waarin ons woon. “Ons moet elke dag wyse besluite neem en dit is juis waarom ons mense wysheid nodig het.”
Hoewel Davids self nog jonk is, is sy teikenmark nie net jong lesers nie, maar almal wat na wysheid soek, mense van enige deel van die samelewing. “Dit is vir enige iemand wat homself of haarself wil bemagtig,” sê hy.
Davids verwys na die stemmetjie wat met jou praat om jou te oortuig, selfs as jy na ‘n winkel gaan en weet jy wil onnodige dinge koop. “Luister na daardie stemmetjie. Eenvoudige beginsels sal jou help om jou lewe te verander.”

– Jeretha Oosthuizen
jeretha@mahareng.co.za