Lae moraal onder Bloemfontein polisie

0
246

Die Openbare Dienste Kommissie (ODK) het gister sy kommer uitgespreek oor die impak wat die misdaadsyfers en die slegte werksomstandighede het op die moraal van polisiebeamptes in die groter Bloemfontein.

Provinsiale ODK-kommissaris, Henk Boshoff, sê die moraal van polisiebeamptes is baie laag alhoewel hulle lojaal bly en hard werk onder baie moeilike omstandighede. Hierdie bevinding is tydens inspeksies by drie polisiekantore – Bainsvlei, Bloemspruit en Kopanong – gedoen.

Twee van dié kantore het van die hoogste moord en geweldsmisdaadsyfers in die provinsie. ‘n Ernstige tekort aan polisiebeamptes is ook tydens die inspeksies gevind.

Boshoff het ‘n dringende beroep gedoen op regeringsdepartemente om saam te span en dringend in te gryp.

Hy sê alhoewel daar tans gekyk word na die gradering van polisiekantore – wat die aanstel van meer beamptes kan beteken – sal die werkslas en die tekort aan kantoorspasie aangespreek moet word.

Boshoff sê by een van die polisiekantore moet drie beamptes vanuit ‘n beknopte kantoor sonder lugreëling werk.

Cathy Dlodlo/Courant-nuus