Krieket springlewendig in Springfontein

0
1371
Lede van die Springfontein-krieketklub is, voor: JP Staples, Shelton Staples, Herman Archer, Neville Grobler, Kalla Reynolds. Agter: Attie Denyschen, Stephen de Swardt, Birt Grobler, Bernhardt Louw, Kobus van Schalkwyk en Luke Jackson. FOTO'S: PRIOR GRANGE

Besoekers aan Springfontein sal op ‘n somerdag ‘n rare beeld tussen die graspolle en skape op die plaas, Prior Grange, sien. En nee, jy word nie ‘n rat voor die oë gedraai nie. Dáár, op die Suid-Vrystaatse vlakte, is ‘n gevestigde krieketveld, kompleet met turf, paaltjies, grasbuiteveld, sigskerms, telbord en, natuurlik, ‘n klubhuis.
Dit is die tuiste van Springfontein se krieketklub – die dorp se eie Lords – wat sedert 1993 weer goed op dreef is toe Prior Grange se eienaar, Blackie de Swardt, saam met ‘n paar ander jongboere besluit het om dié dorp se ryke krieketgeskiedenis te laat herleef. ‘n Span is gevorm en in 1998 het Blackie aangebied om ‘n krieketveld op sy plaas aan te bring.
Die Prior Grange Oval-ses-aan-‘n-kanttoernooi word jaarliks vir die afgelope vyf jaar op dié veld gehou. Twaalf spanne van onderskeidelik Springfontein, Trompsburg, Colesberg, Middelburg, Bloemfontein, Rouxville, Edenburg, Koffiefontein, Bethlehem en Burgersdorp neem aan dié toernooi deel.

Die bekende krieketspeler, Jimmy Sinclair. FOTO: WIKIPEDIA
Die bekende krieketspeler, Jimmy Sinclair.
FOTO: WIKIPEDIA

Vanjaar vind die toernooi op 29 Oktober plaas en klubkaptein, Stephen de Swardt, sê: “Dit gaan ‘n feestelike dag wees, met skaap op die spit, ‘n biertuin, melktert, paaltjies en baie sesse.”
Hy vertel die dag dien as fondsinsameling vir verskeie projekte. “Geld wat ingesamel word, sal vanjaar aan die Springfontein Tennisklub geskenk word vir die opknapping van die bane.”
Stephen sê daar word reeds sedert die vroeë 1900’s relatief ernstig krieket gespeel op Springfontein. “Die eerste krieketwedstyde is gedurende die Anglo-Boere-Oorlog hier tussen verskillende Britse regimente gespeel. Die superintendent van die konsentrasiekamp gedurende die laaste ses maande van die oorlog was die bekende Jimmy Sinclair. Hy was die eerste krieketspeler in wêreldkrieket wat ses paaltjies geneem het en ‘n honderdtal aangeteken het in dieselfde wedstryd. In die tydperk ná die oorlog tot en met 1960, was daar soveel as drie krieketklubs in Springfontein: die spoorweg, die dorp en ‘n plaasspan”. Hy sê teen 1970, in die jare toe sy oupa, Louis Wilmot, nog krieket gespeel het, het dit egter tot en met 1993 doodgeloop.

Die Prior Grange Oval.
Die Prior Grange Oval.

Stephen nooi alle belangstellendes om die Prior Grange Oval-ses-aan-‘n-kanttoernooi by te woon en te kom kyk hoe dit op die platteland gedoen word.
Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na priorgrange@lantic.net of bel 083-310-3284. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za