Kolskoot

0
407

Goeiedag

“Daardie rooikaart vir Kwagga Smith in die eindstryd van die Superrugby-reeks tussen die Leeus en Crusaders in Johannesburg spook steeds by my. Ek glo vas die Leeus kon gewen het as hulle enduit 15 spelers op die veld gehad het. Daar moet weer na die rooikaart-straf gekyk word. Die skeidsregter, Jaco Peyper, was reg om dit te gee, maar die hele Leeu-span is daardeur gestraf en dit is onregverdig.

“Dit sou beter gewees het as Smith met ‘n rooikaart gestraf was, maar dat sy plek dan deur ‘n plaasvervanger ingeneem word. Die vurige flank kan ná die wedstryd verder gestraf word,” verwoord Stywelip Carrington ons almal se gevoel oor die eindstryd, wat toe 25-17 deur die Crusaders gewen is.

“Smith het wel Crusaders se heelagter, David Havili, in die lug getref, maar dit was gewis nie vuilspel nie! Wanneer die internasionale rugbybase weer na die reël kyk, moet hulle ook ernstig oor die rolmaal-bewegings besin. Tans word daar telkens daarmee obstruksie gepleeg. Dit hoort nie in rugby nie!” laat Sporie Bezuidenhout ook verontwaardig van hom hoor.

“Manne, gedane sake het nie keer nie. Ons is darem gelukkiger as Botterbul, want onthou, hy het nie ‘n bok daar in die Bosveld geskiet nie!

“Kom ons wees positief en juig saam met ons verpringers, Luvo Manyonga en Rushwahl Samaai, wat op die Wêreld-atletiekkampioenskap in Londen onderskeidelik goud en brons verower het. Wanneer ons weer vergader behoort Wayde van Niekerk en Caster Semenya ook met medaljes te spog,” probeer Oom Sjert om die teer saak te omseil.

“So van sportbase gepraat. Dink julle nie dit is tyd dat Atletiek Suid-Afrika se base voor stok gekry word nie? Hulle kies vyf marathon-atlete, maar die beste wat die vyftal kon doen, is Desmond Mokgobu, wat 21ste geëindig het. Sy tyd is meer as agt minute stadiger as die marathon-wenner, Geoffrey Kirui van Kenia, se tyd van 2:08:27.

“Hoekom was ons 400-hekkielopers, Cornel Fredericks, Roux Hamman, LJ van Zyl en Constant Pretorius, nie daar nie? En dan praat nie eers van ons 800-atleet, Rynhardt van Rensburg, nie. Hoe kies hulle span? Hierdie atlete kon almal die eindstryde in hul items gehaal het,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.

“In swem loop alles ook nie klop disselboom nie. Chad le Clos en Cameron van der Burgh wen steeds medaljes in die Wêreldbeker-swemreeks, maar waar is ons ander swemmers?” wil Botterbul Bester van Pretoria af weet.

Nie een van die manne antwoord hom nie, maar Sporie wil net terloops weet of sy ou maat al vir skietlesse ingeskryf het.

Botterbul vererg hom en wys die ander daarop dat sy Blou Bulle in die Curriebeker-reeks 54-22 met die Goue Leeus op Loftus Versfeld afgereken het.

Stywelip kry ‘n hou na Botterbul in: “Dit was ‘n erg verswakte Goue Leeus-span en dit tel nie werklik nie. Ons ringkoppe van Saru moet nog verantwoording doen oor die oorvleueling van Curriebeker- en Superrugby!”

Almal stem saam en ons sluit af sonder om oor die Proteas se krieketvertoning te praat.

Groetnis