Kolskoot

0
331

Goeiedag

“Ek is gedaan! Ek was verlede week saam met die Protea-vrouekaptein, Dané van Niekerk, in trane toe ons krieketspan in die halfeindstryd van die Wêreldbeker-toernooi deur Engeland met ‘n vier van die derde laaste bal af uitgeskakel is. Die Proteas moes gewen het. Die Engelse het voortgegaan om Indië in die eindstryd op Lord’s om die gesogte titel te troef. Dit was bitter!” begin Oom Sjert ons indaba.

“Oom Sjert, drie van ons spelers, Van Niekerk, Laura Wolvaardt en Marizaan Kapp, is ingesluit in die Wêreldbeker-vrouekrieketspan, wat na afloop van die toernooi gekies is,” troos Sporie Bezuidenhout.

“Daar is altyd laagtepunte in sport. Ons vroue se nederlaag is onmiddellik in Monaco met die Diamantliga-atletiekbyeenkoms reggestel deur Caster Semenya, Wayde van Niekerk en Akani Simbine.

“Semenya het die 800 vir vroue in 1:55.27 gewen vir ‘n byeenkomsrekord en die vinnigste tyd vanjaar in die nommer. Van Niekerk die wêreldrekordhouer in die 400 het ook nie op hom laat wag nie. Hy het sy wedloop in 43.73 afgeblits ook vir ‘n byeenkomsrekord en die vinnigste tyd vanjaar. Daarby het ons Akani Simbine saam met Usain Bolt in die 100-naelloop in die blokke gesak en derde geëindig. Dit was die legendariese Bolt se laaste wedloop in die Diamantliga en hy het dit gewen,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.
“Vergeet wat verby is. Die derde kriekettoets tussen die Proteas van Faf du Plessis en die Engelse begin vandag op die Ovaal. Ná ons klinkende sege met 340 lopies op Trent Bridge kan ons Proteas die derde toets met selfvertroue aandurf!” verander Stywelip Carrington die onderwerp.

“Ek is bekommerd. Ons het nog die Leeus oor in die halfeindronde van die Superrugby-reeks. Die Leeus sal stukke beter moet speel as hulle die Hurricanes Saterdag op Ellispark wil troef. Jaco Kriel se span was swak teen die Haaie, al het hulle gewen. Net daardie lang strafskop van Ruan Combrinck het hulle gered om met 23-21 te wen. Dit was ‘n skop van 55 meter met net twee minute speeltyd oor. Die lomp Supersportreeks eis nou sy tol, want onthou, die Leeus het nooit teen ‘n Nieu-Seelandse span kragte gemeet nie! In die ander kwarteindstryd het die Stormers 11-17 teen die Chiefs op Nuweland vasgeval,” begin Bontie rugby gesels.

Botterbul is steeds stil, maar paradeer voor die kamera deur sy slaapsak op te rol en sy Musgrave 30.06-geweer weer olie te gee. “Is julle reg vir die Bosveld? Oom Sjert, is jou messe ingepak? Onthou, jy gaan die bokke afslag en help om die biltong en droëwors te maak,” laat hy van hom hoor.

“Botterbul, ons hou geen indaba in die Bosveld nie en as jy in jou blou uitrusting gaan jag en die bokke wegjaag, kom ek huis toe!” waarsku Sporie.

Die ander manne stem saam en ons laat vir eers bespreking van die Curriebeker-rugby en die Britse Ope-gholftoernooi asook Branden Grace se rekordrondte van 62 houe vir die Bosveld.

Groetnis.