Kolskoot

0
363

Goeiedag

“Daar is goeie nuus vir Springbok-rugby!” val Bontie Bonthuys van Kaapstad af met die deur in die huis.

“Die goeie nuus is dat die oud-Boksenter en rugbykenner, Brendan Venter, reeds in aksie is as verdedigingskonsultant vir die Bokke. Hy kan net ’n aanwins wees. Venter was al by Italië, verskeie Engelse klubs asook die Haaie en Stormers betrek en kan ’n nuwe benadering en strukture in die Bokke se verdediging teweegbring. Hy gaan ook as konsultant, om uit druksituasies op die veld te kom, gebruik word en was by die Bokke se oefenkamp op Stellenbosch betrokke,” verduidelik Bontie.

“Ou Bontie, jy is net opgewonde omdat die Stormers die Cheetahs Saterdag 53-10 opgedons het. Onthou, met goeie nuus is daar altyd ook slegte nuus. Een van ons top-breiers, Johan Ackermann van die Leeus, is ook op pad oorsee. Ná die Superrugby-reeks gaan hy hom as afrigter van die Engelse klub, Gloucester, aansluit.”

“Wie gaan nou die Suid-Afrikaanse A-span afrig en die Leeus brei? Vir die Leeus en Suid-Afrika is dit ’n geweldige slag,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.

“Moet nie swartgallig wees nie, Sporie. Ná die afgelope naweek se Superrugby het ek weer moed vir Bok-rugby. Die Stormers was uitstekend en die wedstryd tussen die Leeus en Haaie, wat die Leeus naelskraaps 34-29 gewen het, het uithalerspel opgelewer. Ek weet die Bulle het 28-12 teen die Chiefs vasgeval, maar het nie te swak gespeel nie,” probeer Stywelip Carrington walgooi.

“Ek praat nie oor die Bulle nie! Oom Sjert, jy sê ook niks nie. Gaan jy saam met my die naweek na die spel in die Amerikaanse Meesters-toer, die eerste grote van die jaar, op die kassie kyk? Branden Grace, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel is waarskynlik die manne wat ons land se naam gaan hoog hou,” laat Botterbul Bester ook weer dwars van hom hoor.
“Botterbul, anders as jy, staan ek deur dik en dun by die Cheetahs. Ons het sleg slae gekry op Nuweland, maar die Stormers was kookwater en die jong Cheetahs is tam. Onthou, ons het nie die diepte van die ander streekspanne nie en ná ses agtereenvolgende wedstryde is ons spelers vuisvoos en daarby knou beserings ook die span. Gelukkig het die Cheetahs hierdie naweek ’n loslootjie.

“Ek gaan natuurlik die gholf dophou, maar die Blitsbokke se vertoning in die Hongkong-sewestoernooi is vir my belangriker. Nes die Cheetahs is die Blitsbokke ook sedert die begin van die seisoen ses spelers kwyt. Gelukkig is Branco du Preez, Cecil Afrika, Chris Dry, Ruhan Nel en Tim Agaba fiks verklaar, maar die leemte wat Rosko Specman en Justin Geduld se beserings nou laat, kan die Blitsbokke knou. Onthou die Blitsbokke is net 23 punte voor Engeland op die puntelys,” antwoord Oom Sjert.

“Botterbul praat dalk volgende week weer rugby, want die Bulle se beste kans nog om vanjaar te wen, is Saterdag wanneer hulle teen die Sunwolves speel,” probeer Sporie om Botterbul uit te lok.

Puur verniet, en die ander manne gesels oor die Blitsbokke.

Groetnis.