Kolskoot

0
542

Goeiedag

“‘n Rugbybal is nie rond nie en kan enige kant toe spring. Verrassings in in rugby is dus nie uitgesluit nie, maar wanneer die twee finaliste van verlede jaar se Superrugby-reeks, die Hurricanes en Leeus, albei slae kry, is dit gewis eersterangse verrassings. Dit is presies wat die afgelope naweek gebeur het!”

“Die Chiefs het die Canes 26-18 geklop, terwyl die Leeus weer in Argentinië 36-24 teen die Jaguares vasgeval het. Gelukkig het die Haaie en die Stormers met onderskeidelik die Waratahs 37-14 en die Kings 41-10 afgereken. Die Cheetahs het naelskraaps 38-31 teen die Sunwolves geseëvier en sal stukke beter moet speel wanneer hulle die Jaguares Saterdag in Buenos Aires pak,” begin Oom Sjert ons indaba.

“Daar wag nog verrassings, want die twee top-Aussiespanne, Waratahs en Brumbies, pak mekaar Saterdag in Sydney. Die Bulle is ook weer terug, maar het ‘n redelik maklike wedstryd teen die Sunwolves. Die Leeus sal tuis sokkies moet optrek teen die Reds en die Haaie kan voortbou op hul sege teen die Kings. Die Stormers het ‘n loslootjie, maar die Sesnasie-reeks word weer voortgesit en ná hul skoknederlaag van 22-9 teen Wallis sal die Iere moet uithaal anders gaan die Engelse hul segetog in Dublin voortsit. Mens kan nie glo dat die Iere verlede jaar die All Blacks geklop het nie,” praat Bontie Bonthuys saam.

“Die Engelse segetog is sout in ons wonde, want hul breier, Eddie Jones, sou mos die Stormers kom brei het en wat dit nog seerder maak, is die feit dat die Engelse die Blitsbokke se reeks klinkende oorwinnings in die Wêreld-sewesreeks in Vancouver beëindig het. Hulle het 19-7 in die eindstryd gewen en is steeds die enigste span wat die Blitsbokke in die huidige reeks kon klop. Die Blitsbokke is darem eerste op die wereldranglys,” kla Sporie Bezuidenhout.

“Ek verstaan julle nie. Julle kla as ek te veel gholf gesels, maar julle vergeet dat ons nie die Superrugby-reeks as Bok-proewe moet gebruik nie. Nie een van julle het gesien dat ons top-losskakels, Pat Lambie, Handré Pollard en Elton Jantjies, sukkel nie. Daarby is Lambie ook weer beseer en dit kan lol, want onthou, die Franse Hane kom hier speel. Verskeie losskakels soos Tiaan Schoeman, Fred Zeilinga, Robert du Preez, Curwin Bosch en Lionel Cronjé het reeds stewige spel gelewer het, maar hulle is nie Bok-materiaal nie. Onthou ‘n losskakel is die generaal,” soek Botterbul Bester skoor uit die Jakarandastad.

Stywelip Carrington vererg hom. “Botterbul, hou jou liewer by gholf. Beserings is deel van rugby. Pollard herstel nog ná sy kniebesering en Lambie sal weer vinnig op die been wees.
“Praat liewer krieket. Die tweede toets begin vandeesweek in die Basin Reserve in Wellington en die speeltoestande kan weer die Swart Pette teen die Proteas bevoordeel. Gelukkig is Dean Elgar skitterend op dreef met die kolf en tel Kagiso Rabada en Vernon Philander steeds onder die tien beste boulers ter wêreld. Dalk hak die Proteas hierdie keer die knoop deur!”
Party manne wil Botterbul pak en ander wil krieket gesels daarom roep ons liewer halt.

Groetnis.