Kolskoot

0
288

Goeiedag

“Jislaaik, Oom Sjert, jy is weke al onrustig oor die Cheetahs en natuurlik oor Springbok-rugby, maar dit staan soos ‘n paal bo water dat die Vrystaat steeds die vermoë het om op sportgebied vriend en vyand te verras. Kyk wat die Knights pas weer op die krieketveld gedoen het, en dit byna sonder die hulp van hul Proteas-spelers, David Miller en Rilee Rossouw!” begin Stywelip Carrington ons indaba vanuit ‘n onverwagte hoek.

“Dit sit nie in enige span se broek om die Lions op die Wanderers met ‘n beurt en 121 lopies te klop nie en daarmee het Theunis de Bruyn en sy span ook die Suid-Afrikaanse meerdaagse kriekettitel en groot prysgeld verower. Kolwers soos De Bruyn, Pite van Biljon en Rudi Second was uitstekend, terwyl die boulaanval met Duanne Olivier en Marchand de Lange aan die spits, die Lions se kolwers verniel het. Onthou, die Vrystaat-Cheetahs het ook verlede jaar die Curriebeker in rugby verower en die Vrystaatse Crinums is die nasionale netbalkampioen. Oom Sjert, jy behoort breëbors te wees,” borduur Stywelip voort.

“Ek is trots op ons Vrystaters en wil veral die Knights se breier, Nicky Bojé, lof toeswaai. Julle moet egter onthou, in rugby is daar ‘n groot gaping tussen die Curriebeker-rugby en die Superrugby-reeks. Die Bulle, Stormers en Haaie het reeds in die opwarmingswedstryde gewys dat hulle gedug gaan wees. Dit is waaroor ek onrustig is en oor die slakkepas waarteen Saru voortploeter, wil ek nie praat nie. Kyk na die Sesnasie-reeks. Daar gebeur dinge. Engeland is die enigste onoorwonne span, maar moes elke keer uithaal om te wen. Ons het nie duidelikheid oor Allister Coetzee as Bok-breier, of sy afrigtingspan nie, en die Franse Hane is eersdaags in Suid-Afrika. Die Franse het die Skotte die afgelope naweek 22-16 geklop,” probeer Oom Sjert verduidelik.

“Ierland het Italië die afgelope naweek in die Sesnasie-reeks met 63-10 afgeransel, terwyl Engeland moes uithaal om Wallis 21-16 te troef. Onthou, Italië het die Bokke verlede jaar geklop. Ons rugby is in ‘n groter gemors as wat ons gedink het en om alles te kroon was ‘n Suid-Afrikaner, CJ Stander, met ‘n driekuns van drieë aan die voorpunt van die Ierse slagting van die Azzurri,” praat Sporie Bezuidenhout saam.

“Kêrels, moenie bobbejaan agter die bult (in rugby) gaan haal nie. Dit was lekker toe ons Protea-krieketspan pas Sri-Lanka 5-0 in ‘n Internasionale Eendagreeks 5-0 geklop het. Hierdie week speel hulle reeds op Edenpark in Auckland in ‘n T20-wedstryd teen die Kiwi’s. Die Proteas beklee weer die eerste plek in Internasionale Eendagkrieket, maar die Kiwi’s het gewis ‘n sterker span as Sri-Lanka en ons speel daar in vreemde speeltoestande,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.

“Onthou, daar word in die volgende drie weke drie belangrike gholftoernooie in ons Sonskyn-reeks gespeel. Die Dimension Data Pro-Am, Jo’burg Ope en Tshwane Ope. Ek hoop net van ons beste spelers is in aksie,” laat Botterbul Bester ook van hom hoor.

Dit kry al die manne aan die praat en ons roep vir eers halt.

Groetnis