Kolskoot

0
376

Goeiedag

“Oos, wes, tuis, bes! Ek is sommer lus vir die nuwe jaar ná my besoek aan die Kaap. Ons kan 2017 soos ‘n bul by die horings pak, want as die Proteas se vertonings teen Sri Lanka op St. George’s-park en Nuweland in die eerste twee kriekettoetse en ook internasionale tennis die maatstaf is, gaan dit ‘n opwindende jaar wees,” begin Stywelip Carrington ons eerste indaba van 2017 op ‘n positiewe noot.

“Ja, dankie tog. Kagiso Rabada, Vernon Philander, Dean Elgar, Quinton de Kock, Faf du Plessis en hul spanmaats se spel het selfs Botterbul Bester van sy daaglikse gholfspelery laat afsien. Het julle gesien ons het nou drie kolwers, De Kock, AB de Villiers en Hashim Amla, en drie boulers, Dale Steyn, Rabada en Philander, onder die tien beste toetsspelers ter wêreld? Ek was ook beïndruk met Du Plessis se leierskap op die veld,” laat Bontie Bonthuys van hom hoor.

“Op internasionale tennisbane spat die vonke sommer vroeg. Die wêreld se voorste twee spelers, Andy Murray en Angelique Kerber, het albei reeds slae gekry. Roger Federer en Rafael Nadal is ook albei met mening terug. Novak Djokovic het in ‘n reuse-stryd van drie uur lank daarin geslaag om Murray in die eindstryd van die Katar-toernooi te klop. Dit het Murray se segetog van 28 wedstryde beëindig. Ek kan nie wag dat die Australiese Ope in Melbourne moet begin nie,” praat Sporie Bezuidenhout saam.

“Ons is almal vandeesweek weer op die Wanderers in Johannesburg saam en die Proteas kan in die derde en laaste toets selfs beter vaar as in die eerste twee. Daarna volg die res van die reeks teen Sri Lanka, en om die krieketfees nog lekkerder te maak, reis die Proteas in Februarie na Nieu-Seeland vir ‘n reeks opwindende wedstryde. Julle moet nie vergeet nie, daarná wag die Engelse in Mei op ons Proteas. Dit gaan ‘n groot toets vir Faf du Plessis en sy span wees,” laat Oom Sjert ook van hom hoor.

“Jammer, ek gaan nie die hele kriekettoets by julle wees nie. Onthou, die Suid-Afrikaanse Ope begin vandeesweek op Glendower en ek gaan gewis daar ‘n draai maak. Ek verwag veral uithalerspel van ons jong spelers. In Hawaii het ‘n jong Amerikaner, Justin Thomas, in die nuwe jaar in die Toernooi van Kampioene met die louere weggestap. Ons eie Branden Grace kon net in die 32ste plek klaarmaak,” verander Botterbul die onderwerp.

Oom Sjert is nie lus vir gholfpraatjies nie en begin rugby gesels. “Ek is reeds skrikkerig vir die Superrugby-reeks wat op 23 Februarie begin, want ek weet nie of ons ses spanne vanjaar beter gaan vaar nie. Gelukkig is ons Blitsbokke op dreef en kan hulle op 28 en 29 Januarie in Wellington, Nieu-Seeland, ‘n aanslag op hul tweede titel in die IRB-reeks hierdie seisoen maak.”

“Ja, en die opwindende Vasitybeker-reeks begin op 30 Januarie. Wonder watter universiteite gaan vanjaar die toon aangee,” praat Sporie opgewonde saam.
Dit is duidelik, die feestyd het almal baie goed gedoen.

Groetnis