Kolskoot

0
560

Goeiedag

“Geseënde Kersfees vir julle almal wat daar op Despatch by Sporie Bezuidenhout saamtrek. Ek en Oom Sjert sal ons eers Nuwejaarsdag by julle in die Kaap aansluit vir die tweede toets op Nuweland tussen die Proteas en Sri Lanka. Daarom wag ek eers met Nuwejaarswense, want ek is swartgallig oor die 2017-sportjaar. Veral as dit by Saru, die Springbokke en ons rugby kom. Ek sal darem my gholfstokke bring om te help met die gholfspelery saam met Botterbul,” begin Stywelip Carrington ons laaste indaba vir 2016.

“Dankie tog! Nie net vir die vroeë Kerswense nie, maar veral jou bereidwilligheid om saam met Botterbul te speel. Hy het vir my en Sporie gedaan. Die kruis en dwars-lopery op elk van die 18 putjies, maak ons klaar. Al wat in Botterbul se guns tel, is dat hy kan set. Hy benodig selde meer as twee sette per putjie, maar sy wilde slanery maak ’n gholfbaan dubbeld so lank,” bekla Bontie Bonthuys hul lot.

“Noudat jy dit noem – ons het die afgelope paar weke rugby vermy. Saru het nou al meer indabas oor kondisionering, afrigting en spelpatrone gehou as ons. Oplossings vir die land se rugbyprobleme en die neem van verantwoordelikheid bly egter uit. Ons almal weet geld is vir Saru ’n reuse-probleem, want sonder sakemanne aan die stuur en die gebrek aan goeie borge, leë stadions en kwynende kykergetalle, word die beursies net dunner.

“Die probleem met ons Bok-breier, Allister Coetzee, is steeds nie behoorlik aangespreek nie. Dan word die afdreiging van ons minister van sport, Fekile Mbalula, oor transformasie ook gesystap. Gebrek aan geld en transformasie is die hoofredes vir die uittog van ons talentvolle jong rugbyspelers. Wanneer gaan Mark Alexander, Jurie Roux en kie oopkaarte begin speel, verantwoordelikheid aanvaar en ware oplossings vir die probleme vind?” laat Sporie ook van hom hoor.

“Raak positief. Moontlik gaan die vergroting van private aandeelhouding in die Superrugby-streekspanne geldelik help. Daarby kan 2016 moontlik as die Wayde van Niekerk se jaar onthou word. Sy uitmuntende vertoning op die atletiekbane van die wêreld gepaard met sy Olimpiese goue medalje en wêreldrekord in die 400 maak hom die uitstaande sportman van 2016. Hy is uitstekend ondersteun deur Caster Semenya asook ander atlete en veral ons gestremde sportlui op die Spele in Rio.

“Dan is daar Brad Binder, die Moto3-wêreldkampioen, asook Chad le Clos en Cameron van der Burgh in swem. Baie om oor opgewonde te raak en dan praat nie eens van ons Proteas se krieketseges in Australië en ons Blitsbokke se sewerugbyvertonings nie,” stel Oom Sjert sy saak.

Met die verandering van die onderwerp, sien Botterbul ’n gaping en vat dit met die netjiese systap van ’n senter. “Julle moet jul uitkyk en benadering verander. Ek kyk deesdae wyer. Ek speel gholf om van my stres ontslae te raak en dan kyk ek na sport dwarsoor die wêreld. Oral is daar Suid-Afrikaners in aksie. Dis lekker!”

Eers is almal stil maar toe lag hulle. Ons sluit 2016 vrolik af.

Groetnis