Kolskoot

0
537

Goeiedag

As julle dink ons indaba verlede week was ‘n swartgallige spul, dan moet julle ons hierdie week sien, Bontie Bonthuys, Sporie Bezuidenhout en selfs Oom Sjert het swart roubande om hul bo-arms, terwyl Stywelip Carrington weens sy KwaZulu-Natalse verbintenis steeds ‘n papawer op sy bors vasgespeld het ter herdenking aan die menseslagting van die Eerste Wêreldoorlog.

“Die blommetjie is vir die gestorwe Springbok,” verduidelik Stywelip. Die ander manne knik instemmend.’n Begrafnis-atmosfeer heers.

Die uitsondering is Botterbul Bester, wat Saterdag die eerste keer in meer as ‘n dekade ‘n rondte gholf gespeel het, terwyl ons die Italiaanse rugbyslagting van 18-20 van die Bokke aanskou het.

Hy swaai sy gholfdrywer rond en is in sy ligblou-uitrusting besig om met ‘n bloedrooi gebrande gesig aan ons te verduidelik hoe goed hy kwansuis gespeel het. “Botterbul, staak jou stuitighede! Ons is besig met hartseersake en buitendien verskil jou beskrywing en dié van jou gholfmaat, Dwarsboom Joubert, soos dag by nag. Volgens hom moet jy minstens 30 houe by jou telling tel vir al die ‘oefenhoue’ wat jy gespeel het. Daarby het jy blykbaar ‘n aanmaning van die klubkaptein gekry omdat jy spel so erg vertraag het,” knip Sporie hom kort.

“Ons weet die Bokke ploeter, maar my stoutste verwagtinge het nie eens voorsien dat die agteros van die Sesnasie-reeks, Italië, ons Bokke sou klop nie! Dis ‘n skande! Ons span was pateties. Ons verbeeldinglose, besluitlose, futlose vertoning herinner my aan dié van ‘n kaalvoetspan op o.13-vlak!” verwoord Oom Sjert sy misnoeë.

“Ja, en ons, asook die toeskouers, ondersteuners en kykers spreek reeds maande lank ons kommer uit oor die uitstroming van ons jong talent, die verouderde benadering van kragrugby en gebrek aan vaardighede en vernuwing. Die steeds krimpende kykergetalle, onttrekking van borge en gebrek aan leiding deur Saru getuig daarvan,” voeg Bontie by.
“Julle moet ook nie die politieke inmenging van ons minister van sport, Fikile Mbalula, vergeet nie. Sy politiekery en afdreiging met transformasie is een van die hoofredes vir die uitstroming van ons jong talent.

“Ons het iets soos Operasie Skoonmaak van bo tot onder nodig, maar om dit van Mark Alexander en sy amateur-Saru-troepe te verwag, is dalk te veel gevra,” voeg Stywelip by.

“Die pyn is nog nie verby nie, want Saterdag wag die Rooi Drake van Wallis in die Millennium-stadion in Cardiff op ons. Soos die Bokke nou speel, wag nog slae! Selfs al verander Allister Coetzee dramaties aan die span, sien ek nie lig nie,” waarsku Oom Gert.

“Gelukkig kry die Proteas vandeesweek kans om die Aussies op die krieketveld op die Adelaide-ovaal nog ‘n bloedneus in die derde en laaste toets te gee. Hulle verdien dit, want die klag teen ons Protea-kaptein, Faf du Plessis, vir bal-peutery is bog. Daarby molesteer die Aussie-media nou blykbaar ook ons Proteas. Die Aussies bloei net soos ons rugbymense, maar ons weerhou ons van sulke laakbare optrede,” probeer Botterbul die manne se aandag af te lei.

Dit werk, want skielik gesels die manne oor die ses veranderinge aan die Aussie-span.
Groetnis. – GEORG VAN ECK