Kolskoot

0
171

Goeiedag

Ons indaba is ‘n bedrukte spul. Net Botterbul Bester is vrolik. Hy was by Sun City vir die gholf waar die Sweed, Alex Noren, die Nedbank Uitdaagtoernooi gewen het en skielik is hy ‘n geesdriftige gholfondersteuner.

Die ander manne lek nog wonde ná die Springbokke se powere spel en nederlaag van 37-21 teen die Rose van Engeland op Twickenham en hy is veral vir hulle irriterend.

“Julle gaan julself weer kasty om die Bokke se wedstryd teen Italië dop te hou. Ek het nuwe stokke gekoop en gaan ‘n rondte op die gholfbaan van die Pretoria Buiteklub speel. As daardie klein Engelsman, Andy Sullivan, so lekker kan speel, kan ek ook goed vaar. Ek het my gate uit geniet en drie Suid-Afrikaners, Branden Grace, Louis Oosthuizen en Jaco van Zyl, het onder die toptien in die toernooi geëindig,” val hy met die deur in die huis.

Oom Sjert vererg hom bloedig. “Jy is aansienlik breër as Sullivan en sê mos van gholf dat die gelopery agter die wit balletjie aan net ‘n goeie wandeling in die natuur bederf! Ons bespreek ernstige sake. Ons hartspel, rugby, is in ‘n moeras. Ons sink al dieper in die modder van doellose, swak spel weg. Daar moet huis skoon gemaak word en dit sluit ons Bokbreier in. Daar is geen fut en trots meer nie. Allister Coetzee moet pa staan vir sy besluit om te volhard met Damian de Allende op binnesenter as hy oor ‘n knap jong speler soos Rohan Janse van Rensburg beskik. Sy besluit om Pieter-Steph du Toit op flank in te span was ook ‘n mislukking en dit is net twee van die ooglopende swakhede. Ek is moedeloos!”

“Kan julle glo dat die Bokke met vyf lynstaanspringers, waarvan drie meer as twee meter lank is, nie teenstand tydens die Engelse ingooie gebied het nie? Geen Bok kon soos die Engelse agtsteman, Billy Vunipola, hul span keer op keer oor die voordeellyn kry nie. Dit is om van naar te word,” gee Bontie Bonthuys sy mening.

“Rudy Paige was agter die skrum so stadig soos ‘n krap. Sy taktiese skopwerk en ook dié van sy makkers is doelloos en ek wil nie eens van die verdediging van die Bokke praat nie. Die enigste ligpuntjies was die spel van Johan Goosen as plaasvervanger-losskakel en Francois Venter op buitesenter. Coetzee moet Saterdag jong spelers teen Italië inspan,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.

“Suid-Afrikaners het darem drie toekennings op die Wêreldrugby-prysuitdeling in Londen ontvang. Seabelo Senatla is die Sewes-rugbyspeler van die Jaar, Rasta Rasivhenga deel die Skeidsregter van die Jaar-toekenning met die Spanjaard, Alhanbra Nievas, en ons voormalige Bok-kaptein, Jean de Villiers, is met ‘n merietetoekenning vereer. In vyftienman-rugby is die All Blacks as Span van die Jaar bekroon. Die All Black-losskakel en -breier, Beauden Barrett en Steve Hansen, is onderskeidelik die Speler en Afrigter van die Jaar bekroon. Dit vertel die hele rugbyverhaal,” is Stywelip Carrington se bydrae.

Sporie probeer die manne opbeur: “Ons Brad Binder het die Moto3-renseisoen op sy KTM-motorfiets met sy sewende grand prix-titel in Valencia, Spanje, afgesluit!”
Dit is puur verniet, die manne bly swartgallig. Groetnis.