Kolskoot

0
670

Goeiedag

Die manne beloer mekaar. Niemand wil oor die Springbokke praat nie en Botterbul Bester, wat brand om oor die Blou Bulle in die Curriebeker-reeks te spog, het ‘n wag voor sy mond omdat hy al te veel in die bek geruk is… stilte…

Sporie Bezuidenout breek die ys: “Het julle gesien Brad Binder is op sy KTM-motorfiets as die 2016-Moto3-wêreldkampioen gekroon met nog vier wedrenne oor? Dis ‘n uitmuntende prestasie en hy gaan waarskynlik aanstaande jaar in die Moto2-afdeling vir die KTM Red Bull-span jaag.”

“Ja, Binder se tweede plek in die Aragon Grand Prix was genoeg om hom die wêreldtitel te besorg. Die enigste Suid-Afrikaner wat dit nog kon vermag, was Jon Ekerold. Hy het dit op sy private-ingeskrewe Bimota Yamaha 350cc reggekry en het fabriekspanne soos die Kawasaki TZ350 met Anton Mang in die saal in 1980 in die stof laat byt,” borduur Bontie Bonthuys voort.

Selfs Stywelip Carrington is versigtig. “Gelukkig wag daar die volgende paar maande ‘n krieketfees op die Proteas. Hulle het die Iere in ‘n Internasionale Eendagwedstryd in Benoni met 206 lopies afgeransel. Hoewel ek bly is dat Temba Bavuma ‘n nooiens-100 (113) gemoker het en JP Duminy 4/16 met sy draaiers laat kantel het, is die Iere geen werklike maatstaf nie. Die Proteas se wedstryd teen die Aussies op Supersportpark in Centurion en daarna op die Wanderers en Nuweland sal wys wat ons van die Proteas op hul toer na Australië en daarna teen Sri Lanka kan verwag. Ek is net bekommerd oor die afwesigheid van Chris Morris en moontlik ook AB de Villiers.”

“Basta met wegskram van die Bokke en rugby,” pak Oom Sjert die bul by die horings. “Die Bokke moet Saterdag op Loftus Versfeld teen die Wallabies weer op die wenpad kom. Die land se eer is op die spel. Wat Allister Coetzee beplan met Willie le Roux en Pat Lambie wat nadergetrek is, weet ek nie, maar Adriaan Strauss-hulle sal nou ‘n haas uit die hoed moet ruk; die volle 80 minute moet speel en meer aanvallend moet wees. Daar moet in alle fasette van die spel ‘n drastiese verbetering kom.

“Die Bokke sukkel steeds in die middelveld, maar het julle gesien Francois Steyn was pas weer op senter ‘n groot uitblinker vir Montpellier in hul sege van 42-13 oor Brive? Daarby het Coetzee nog steeds nie vir Ruhan Janse van Rensburg en Francois Venter in die Bok-groep betrek nie.”

Botterbul kan nie meer hou nie: “Die Vrystaat-Cheetahs het reeds vir hulle ‘n tuiswedstryd in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks verseker en die Blou Bulle is ook seker van hul plek. Ek gaan die Bokke se stryd op Loftus bywoon. Ek neem gewis ‘n mengseltjie vir my senuwees saam, maar die Leeus en Haaie wat mekaar pak en die stryd tussen die WP en Boland Kavaliers gaan deurslaggewend wees om te bepaal wie vanjaar na die halfeindronde deurdring. Ek wil nie in jul skoene wees nie!”

Skielik praat almal en lug hul menings. Die stilte is gewis verbreek.

Groetnis. – GEORG VAN ECK