Kolskoot

0
597

Goeiedag

Voordat ons elektroniese verbinding aan die gang is vir ons indaba, is Botterbul Bester daar in die Jakarandastad uit die blokke: “Wat het ek julle gesê? Die Blou Bulle is weer in die rugbywedloop vir die Curriebeker nadat hulle die Goue Leeus 31-17 geklop het en my span beklee nou die derde plek! Onthou, die Goue Beker word nie ná net vier rondes gewen nie.”

Van die manne vererg hulle bloedig, maar gelukkig hou Bontie Bonthuys kop. “Geluk, Botterbul. Dit was gewis die Blou Bulle se beste vertoning dié seisoen, maar die Haaie gee nog die pas aan, terwyl die Toyota Vrystaat-Cheetahs nou die enigste onoorwonne span is. Ek is natuurlik baie bly dat die Streeptruie weer op die wenpad is. Die WP-sege van 34-27 oor die Haaie gee my hoop. Hoe gaan dit nou met jou stresprobleme en bloeddruk?” sê-vra hy.

“Dankie, stukke beter. Ek is reg vir die Paralimpiese Spele wat vandeesweek in Rio begin. Ek hou veral duimvas dat die veteraan-rolfietsryer, Ernst van Dyk, ‘n medalje gaan verower. Ook dat al ons ander sportlui uitblink, want soos dikwels gesê word, hulle is die ware Olimpiese sportlui van die wêreld,” antwoord Botterbul vinnig.

“Ek sien ook uit na die Paralimpiese Spele, maar wil noem dat die afgelope week se Curriebeker-wedstryde beter spel opgelewer het. My Vrystaters gee my baie plesier met hul aanvallende hardlooprugby, maar dit word moontlik gemaak omdat die voorspelers voorvoetbal in alle afdelings wen. Die span se verdediging kan beter, want Saterdagmiddag moet hulle die Haaie in die Haaitenk in Durban pak en dit is geen maklike taak nie,” gesels Oom Sjert saam.

“Ek sal Saterdag 17:00 op Kingspark vir die stryd tussen die Haaie en die Cheetahs wees, want ek verwag goeie rugby. Die Springbokke bekommer my steeds. Daar is fout in die Bok-kamp. Die aankondiging van ons Bok-kaptein, Adriaan Strauss, dat hy die einde van die jaar as internasionale speler uittree, wys daar’s ‘n skroef los. Ek ys as ek dink aan die Toets Saterdag teen die Wallabies in Brisbane. Die Bokke wen selde daar,” laat Stywelip Carrington van hom hoor.

“Strauss se aankondiging is ‘n wekroep vir ons Bok-breier, Allister Coetzee, om ‘n nuwe rigting in te slaan. Hy het van die spelers genoeg kans gegee. Senters soos Ruhan Janse van Rensburg, André Esterhuizen en Francois Venter moet betrek word, en waar is Frans Steyn? Kap die ou hout uit. Ek dink ook Coetzee moet die blink, jong sterre soos Ox Nche, Curwin Bosch, Malcolm Marx en Thomas du Toit by die Bok-groep betrek. Berei hulle voor vir groter dinge,” laat Sporie Bezuidenhout van hom hoor.

Bontie probeer oor Chad le Clos en Cameron van der Burgh se gouemedalje-oes in Fina se Wêreldbeker-kortbadreeks praat en Louis Oosthuizen se stewige gholfvertoning in die Deutsche Bank-toernooi in Massachusetts, asook die gerugte dat Shakes Mashaba as die afrigter van die Bafana Bafana gepos gaan word, maar watwou, die ander manne het elk ‘n mening oor die Bokke en ons indaba eindig weer in chaos.

Groetnis