Kolskoot

0
460

Goeiedag

“Ons rugby is op die afdraande pad! Die Springbokke verloor jou wrintie weer 24-26 teen die Poemas in Argentinië en ons provinsiale spanne ploeter in die borglose en toeskouerlose Curriebeker-reeks voort, eens die trots van Suid-Afrika. Dit is tyd vir selfondersoek,” begin Bontie Bonthuys ons indaba dramaties.

“Ja, en ons Saru-president, Oregan Hoskins, het skielik bedank, terwyl ons Bokkies in die Junior Wêreldbeker-toernooi in Manchester vroeër vanjaar net die bronsmedalje kon verower. Die uiteindelike kampioen, Engeland, het ons jong spelers in die halfeindronde 39-17 afgeransel. Daarby stroom talentvolle spelers en afrigters die land uit,” stook Sporie Bezuidenhout die vuur.

“Dit is nie die nederlaag van die Bokke en swak spel van die Haaie en Blou Bulle in die Curriebeker-stryd in Durban wat my ontstel nie. Dit is die wyse waarop die Bokke in Salta gespeel het, wat my ontstig. Ons was lusteloos, takties swak, en is by die afbreekpunte geklop. Ons verdediging was nie op peil nie en die span was soms heeltemal rigtingloos.

“Daar is fout met die afrigting, want takties is ons skopwerk swak, planne en slaankrag in die agterlyn ontbreek en hantering is power. Trots ontbreek by die Bokke. Onthou, ons volgende teenstanders is die Wallabies en All Blacks. Ek weet nie wat Allister Coetzee gaan doen nie, maar plan sal vinnig gemaak moet word,” kla Stywelip Carrington saam.

“Wees positief. Saru het vandeesmaand die kans om dinge reg te ruk wanneer ‘n nuwe president verkies word en die ander moontlike vakatures as adjunk-president en lid van die uitvoerende raad gevul moet word. Nominasies sluit in September en die verkiesing vind op 27 Oktober plaas. Dit help nie om vakatures met die ou garde te vul nie. Ons het nuwe leiers nodig wat sterk leiding kan gee. Anders gaan rugby tot 2018 net voortploeter. Die hele samestelling van Saru, waar die stert dikwels die hond swaai, moet vernuwe word anders gaan ons nie uit hierdie gemors kom nie.

“Geen rugbyland kan meer as 300 spelers en afrigters van die gehalte van Dawie Theron, Rassie Erasmus, Jacques Nienaber en moontlik ook Neil Powell verloor en dink hulle gaan by Nieu-Seeland, Engeland, Ierland en Argentinië byhou nie. Die Bokke gebruik onervare hulpbreiers soos Chean Roux (verdediging) en Mzwandile Stick (agterlyn) en is sonder die hulp van skop- en afbreekpunt-kenners. Hoe kan ons verwag die Bokke moet groei en ontwikkel?” probeer Oom Sjert rigting gee.

“Moenie leiding van Saru verwag nie. Die ou garde klou aan dié bedeling. Hulle wil nie uit gemaksones geruk word nie en kliekvorming verseker dat hulle in beheer bly.

“Daar is nie toeskouers by Curriebeker-rugby nie. Die Superrugby-reeks is lomp en onbevredigend. Ek begin nou ook na swem en ander sportsoorte kyk. Chad le Clos en Cameron van der Burgh het pas weer elk drie goue medaljes in Fina se Wêreldbeker-swemreeks in Parys gewen. Ek dink ons ondersteuners stuur ‘n duidelike boodskap,” verras Botterbul Bester ons.

Stilte… almal het gedink Botterbul word nog vir stres behandel, maar toe word hy uit volle bors ondersteun.

Groetnis