Kolskoot

0
365

Goeiedag

“Of die Leeus nou Saterdagoggend wen of verloor wanneer hulle die Hurricanes in Wellington, Nieu-Seeland, in die eindstryd van die Superrugby-reeks pak, het Johan Ackermann en Swys de Bruin met hul span reeds ‘n geweldige guns aan Suid-Afrikaanse rugby bewys. Die Leeus is ongetwyfeld die wegwyser van die rugbyrigting wat SA rugby moet inslaan,” begin Bontie Bonthuys ons indaba.

“Ek weet. Ek is ‘n Kapenaar, maar die soort rugby wat die Leeus opdis, maak my hart weer vuurwarm en ons Bok-afrigter, Allister Coetzee, sal deeglik daarop ag moet slaan,” verduidelik hy sy siening.

“Ek stem staam! Julle weet ek is deur dik en dun ‘n Cheetah-ondersteuner, maar die speltempo wat die Leeus in hul sege van 42-30 oor die Highlanders gehandhaaf het, het my soms na my asem laat snak. Daar is ook groot balvaardigheid by die Leeus en hulle skeep nie die skrums, lynstane, afbreekpunte en inklimspel af nie. Manne, dit was lekker, want die Leeus het ook soos Trojane verdedig,” laat Oom Sjert van hom hoor.

“Ek weet ons het al gekla as Heyneke Meyer ‘n te Blou Springbokspan gekies het, maar ek sal nie omgee as die Bokke van 20 Augustus af, wanneer hulle die Poemas in Mbombela in die eerste Rugbykampoenskap-toets pak, meesal soos Leeus brul nie. Ek hoop net die Leeus kan Saterdag in Wellington met ‘n oorwinning brul. Maklik gaan dit nie wees nie, want die Hurricanes het die Chiefs in die halfeindronde 25-9 opgekeil,” praat Sporie Bezuidenhout van Despatch af saam.

Dit is net Stywelip Carrigton en Botterbul Bester wat nie lekker meedoen nie. Hulle wil Olimpiese Spele praat. “Saterdag begin die groot sportskouspel en ek kan nie meer wag nie. Ons sien reeds Sondag van ons top-fietsryers, Daryl Impey en Louis Meintjes, in aksie.

Daarna volg nog fietsry met Ashleigh Moolman-Pasio, swem, sokker en roei. Ons Blitsbokke begin ook hul rugbyaanslag vroeg aanstaande week teen Spanje en julle moet onthou, Neil Powell se Blitsbokke is die huidige Statebondkampioen. Ek verwag swemmers soos Myles Brown, Sebastian Rousseau, Chad le Clos en Cameron van der Burgh kan medaljes verower.
“Dit is net jammer ons top-gholfspelers, Branden Grace, Louis Oosthuizen en Charl Schwartzel, het hulle aan die Spele onttrek. Grace het pas weer op die Baltusrol-baan in Amerika in die gesamentlike vierde plek in die PGA-kampioenskaptoernooi geëindig. Jimmy Walker het met sy totaal van -14 houe gewen, gevolg deur Jason Day (-13) en Daniel Summerhays (-10), terwyl Grace met -9 houe die vierde plek met hulle deel. Ek het nog steeds hoop dat Jaco van Zyl en Brandon Stone ons land se naam hoog sal hou op die gholfbaan by die Spele,” verduidelik Stywelip sy opgewondenheid.

Botterbul kla steen en been. “Ek het steeds huismoles. Toe ek Saterdag na die Leeus teen die Highlanders wou kyk, het my vroulief reeds stelling voor die nuwe TV-skerm ingeneem en is ek na die kleiner stel verban!” laat hy benoud van hom hoor. Die ander manne lag so lekker dat ons nie verder kan gesels nie.

Groetnis.