Kleingeld wen drie SA pluimbaltitels

0
1523
Johan Kleingeld (voor) en Morné de Beer (albei Vrystaat) is hier in aksie tydens verlede week se Suid-Afrikaanse veterane-pluimbalkampioenskap wat in Bloemfontein beslis is. Hulle het die dubbelspeltitel gewen. FOTO: EMMA BOOYSEN PHOTOGRAPHY

Bloemfontein se beste pluimbalspeler in die veterane-afdeling, Johan Kleingeld (45), het verlede week gewys dat hy ook die land se beste is in dié afdeling. Hy het verlede week in Bloemfontein nie minder nie as drie Suid-Afrikaanse titels in die ouderdomsgroep vir spelers 40 jaar en ouer ingeryg.

Kleingeld is as kampioen gekroon in die enkel-, dubbel- en gemengde dubbelspel-afdeling en omrede hy tweede gekeur was in die enkelspel, het hy ‘n loslooitjie in die eerste ronde gehad.

Sy skitterende spel het egter in die tweede ronde begin toe hy Eddie van Coller in skoon stelle afgeslag het. In die derde ronde was Kleingeld weer op die oorlogspad en klop vir Tony Cough (Suid-Gauteng) ook in skoon stelle.

Hierna was hy in die kwarteindstryd in aksie teen Johan Aucamp (Noord-Gauteng) en weer het hy nie die wedstryd uitgetrek nie en in skoon stelle geseëvier.

Kleingeld het in die halfeindstryd ook nie onnodige energie vermors nie en Alistair Kane (WP) in skoon (drie) stelle geklop. Hy het in sy opmars na die eindronde nie ‘n enkele stel afgestaan nie en toe kom die grote – die veelbesproke eindstryd teen die eerste gekeurde Annes de Bruyn (SA Weermag).

Dié wedstryd het vir drama gesorg. Kleingeld het die eerste stel met 11 – 8 beklink, maar het die tweede en derde stelle naelskraap met 12 – 13 en 12 – 13 verloor. Die druk was vierkantig op Kleingeld se skouers. Hy is die taak gestel om die vierde stel te beklink om steeds ‘n kans te staan.

Kleingeld se spreekwoordelike BMT (big match temperament) skop toe deeglik in en hy wen die vierde stel met 11 – 6.

En toe gebeur dit – De Bruin besluit om handdoek in te gooi en tree nie aan vir die vyfde spel nie. Na dié oorgee-aksie van De Bruin is Kleingeld as nasionale enkelspelkampioen gekroon (11–8, 12–13, 12–13, 11–6).

Kleingeld het met Morné de Beer (Vrystaat) saamgespan in die dubbelspel-afdeling. De Beer (40), wat sy eerste jaar in die veterane- afdeling meegeding het en Kleingeld het ‘n loslootjie in die eerste ronde gehad en in die tweede ronde die SA Weermag-span met drie stelle geklop.

In die kwarteindstryd het hulle KwaZulu-Natal met skoon stelle pak gegee en in die halfeindstryd het hul teenstanders, Werner Booysen (Vrystaat) en Johan Croukamp (Noord-Gauteng), ook met skoon stelle teen Kleingeld en De Beer vasgeval.

Die eindstryd was eenrigtingverkeer vir Kleingeld en De Beer. Hulle het die Barker-broers (Colin en Steven) van die WP met ‘n loesing van 11-7, 11-6 en 11-8 huis toe gestuur.

In die gemengde dubbelspel het Kleingeld en sy spanmaat van Oos-Londen, Karen Coetzer, geen keer gehad nie en uiteindelik die eindstryd in vier stelle teen Herbert Miles (Vrystaat) en René Schoonees (Boland) gewen. – RUFUS BOTHA