Kleingeld lei VS-aanslag by SA veterane-pluimbal

0
753

Indien daar een persoon is wat nie gras onder sy voete laat groei as pluimbalspeler, afrigter en administrateur nie, is dit Johan Kleingeld van Bloemfontein. Hierdie befaamde yster in pluimbalkringe wêreldwyd is reeds van Sondag af in aksie op die Suid-Afrikaanse veterane (40-jaar plus)-pluimbalkampioenskap wat in die Tempe-sportsentrum in Bloemfontein aangebied word.

Kleingeld en sy makkers in die Vrystaatspan blyk slaggereed om heelparty medaljes in te oes. Met sterk aanspraakmakers op plekke onder die top-3 in onderskeie afdelings, kan die Vrystaatspan boonop as beste provinsie van die kampioenskap uit die stryd tree.

Kleingeld, Herbert Miles en Werner Botha behoort van die Vrystaat se staatmakers te wees om moontlik die spankompetisie te wen, maar wees verseker, die Noord-Gauteng- en Westelike Provinsie-span wil ‘n stokkie steek voor algehele oorheersing deur die Vrystaters.

Dit is egter nog ‘n Vrystater, Morné de Beer, wat Kleingeld opgewonde maak. Hy het aan Courant gesê: “Morné speel vanjaar in sy eerste jaar as veteraan en hy kan ‘n opskudding of twee veroorsaak. Hy is ‘n voormalige nasionale kampioen in die junior afdeling en kan vir die Vrystaat goud werd wees dié week.”

Kleingeld, wat slegs een nier het, het die enkel- en dubbelspel-titels gebuit op die wêreldoorplantingtingspele. Hy word egter op dié week se toernooi in die enkelspel, dubbelspel en gemende dubbelspel as een van die gunstelinge beskou om medaljes in te ryg.

Hy is tweede gekeur vir die enkelspel vir mans en is saam met De Beer die eerste gekeurde spelers in die dubbelspel. Kleingeld is boonop saam met sy spanmaat, Karen Coetzer (Oostelike Provinsie), eerste gekeur vir die gemengde dubbelspel en dit sal as ‘n verrassing kom indien hulle nie dié titel buit nie.

Die toernooi duur tot Donderdag en die eindronde se wedstryde, wat beloof om aksiebelaai te wees, begin Donderdag 19:00. – RUFUS BOTHA