Katnes van bedrog in polisie oopgevlek

0
1008

Die spesialis-eenheid van die polisie, die Valke, het vandeesweek ‘n katnes van bedrog en korrupsie oopgevlek, wat tot die inhegtenisname van verskeie polisiebeamptes gelei het. Vyf polisiebeamptes van verskeie eenhede – met range wat wissel van konstabel tot luitenant-kolonel – en ‘n beampte in die finansies-afdeling van die polisie is deur hul kollegas in blou in Bloemfontein. in hegtenis geneem
Woordvoerder van die Valke, Philani Nkwalase, sê dit volg nadat ‘n voorlopige ondersoek reeds in September verlede jaar begin is. Hy sê die ondersoek het gevolg nadat verskeie eenhede se begroting uitgeput is sonder dat daar enige amptelike verklaring vir die besteding aangebied kon word. “Die voorlopige ondersoek het gevind dat verskeie sake wat dui op grootskaalse bedrog en korrupsie uitgemaak kan word,” verduidelik Nkwalase. Hy sê die ses verdagtes is toe in Bloemfontein vasgetrek. “Die verdagtes het valse eise vir reis- en verblyftoelae ingedien, wat dan aan hulle uitbetaal is. Sommige van die transaksies beloop meer as vier miljoen rand,” sê Nkwalase. Hy sê voorlopige berekeninge dui daarop dat die bedrog altesaam meer as vyf miljoen rand kan beloop.
Volgens Nkwalase sluit die verdagtes wat in hegtenis geneem is drie konstabels van die Taktiese Reaksie Eenheid en een luitenant-kolonel van die Openbare Orde Polisie-eenheid in. Die Valke ondersoek die moontlikheid dat al die polisiebeamptes met mekaar en die beampte in die finansies-afdeling saamgewerk het en dat hulle in die verskillende eenhede verskeie netwerke gevorm het met die beampte in die finansies-afdeling as hul kontak. Nkwalase sê die moontlikheid dat nog polisiebeamptes in hegtenis geneem kan word, is nie uitgesluit nie. Die verdagtes gaan na verwagting eersdaags in die hof verskyn op onder meer klagte van bedrog, korrupsie en diefstal. “Ons wil graag ‘n duidelike boodskap uitstuur dat die Valke vasberade is om bedrog en korrupsie in die polisie uit te roei. Ons gaan geen klip onaangeraak laat in ‘n poging om skuldiges aan die pen te laat ry nie,” sê Nkwalase. – Cathy Dlodlo
cathy@centralmediagroup.co.za