Karla Mostert se ster skitter

0
830
Karla Mostert.

“Dit is maar een van die eerste sportsoorte waaraan ‘n meisie blootgestel word as jy skool toe gaan. Van toe af het die gogga gebyt.”
Só som een van Netbal Suid-Afrika (NSA) se blinkste sterre, Karla Mostert, haar passie vir netbal op. Mostert, wat al telkemale die Proteas asook die Universiteit van die Vrystaat (UV) op die netbalbaan verteenwoordig het, beskryf haar sukses en kookwaterspel op die netbalbaan die afgelope paar jaar aan pure harde werk toe.
“Ek is ‘n groot voorstander daarvan om drome te hê en daarvoor te werk. Wanneer jy droom, stel jy doelwitte en dan gaan jy voluit daarvoor. Dit gaan maar oor deursettingsvermoë en om rêrig vol te hou, uiteindelik kom dinge bymekaar. Of dit nou vandag, môre of oor vyf jaar is.”
Op die netbalbaan word sy beskryf as die land se onderskepkoningin, asook die selfsugtige Karla, wat deurentyd haar teenstanders se balbesit weggaps, maar wie is Karla Mostert af van die baan? “Spontaan, hardwerkend, vriendelik en behulpsaam. Ek hou daarvan om my tyd te spandeer op goed waarby ‘n mens kan baatvind,” sê Mostert laggend.
Sy het ook vanjaar haar horisonne verbreed deur tyd in Europa deur te bring, waar sy vir Bath in die Engelse Premierliga gespeel het. Sy is benoem as Sky Sport se Netbalspeler van die Jaar. Oor dié ervaring kan Karla nie uitgepraat raak nie.
“Dit het my baie goed gedoen. Ek sal net graag wat ek daar geleer het, hier in Suid-Afrika wil terugploeg.” Mostert sê ten spyte van die feit dat netbal oor die afgelope seisoene baie gegroei het in Suid-Afrika, meen sy tog dat daar steeds verskeie uitdagings is wat die sport in die gesig staar. “Baie van ons is nog studente en ander werk. Jy kan nie altyd afkry vir toere of toernooie nie. Baie van ons moet goed opgee om netbal te kan speel en jy word nie daarvoor betaal nie. So, op die einde van die dag doen jy dit maar vir die liefde van die sport.” Hoe dit ook al sy, ten spyte van die uitdagings meen dié gekwalifiseerde dieetkundige dat vroue-sportsoorte baie vêr gekom het.
Soos Mostert dit opsom, wanneer jy droom, stel jy doelwitte en jy werk hard daarvoor – op die einde van die dag kom dinge bymekaar. – Mark Steenbok
mark@centralmediagroup.co.za