Julius Malema van aanhitsing aangekla

0
362
Julius Malema
Die nasionale leier van die EFF, Julius Malema, is ‘n kort rukkie gelede gedagvaar om in die Bloemfonteinse Landdroshof te verskyn in verband met ‘n klagte van aanhitsing om ‘n misdaad te pleeg.

Malema het tydens ‘n mediakonferensie gehoor dat die Nasionale Vervolgingsgesag en die polisie ‘n dagvaarding op hom gaan beteken.

Die party se Floyd Shivambu het bevestig dat die dagvaarding verband hou met ‘n uitspraak wat Malema tydens die party se nasionale kongres, in Desember 2014, op die UV se Bloemfontein-kampus gemaak het. Intussen het AfriForum se Kallie Kriel bevestig dat hulle destyds ‘n kriminele klag teen Malema aanhangig gemaak het.

“AfriForum het op 17 Desember 2014 ‘n strafregtelike klag teen Julius Malema ingedien. Dit is nadat hy sy ondersteuners aangemoedig het om grond te beset, wat ‘n misdaad is. Om mense aan te hits om ‘n misdaad te pleeg is natuurlik ‘n strafregtelike oortreding,” het Kriel gesê.

Malema word gedagvaar om op 7 November in die landdroshof in New Castle, en op 14 November in die Bloemfonteinse landdroshof te verskyn – Cathy Dlodlo