Jong kunstenaar se kunswerk verskyn in kalender

0
276
Gitte Pieterse

Die kunswerk van ‘n jong Bloemfonteinse kunstenaar is gekies om in die Santam-eeufees-2018-kalender te verskyn.
Die jong kunstenaar, Gitte Pieterse, het begin met kuns op die ouderdom van vier. Haar kunsonderwyseres, Carien Brown, meen Pieterse geniet dit om in kleur te teken en te sien wat die eindresultaat sal wees. “Sy vind inspirasie in die natuur en foto’s,” sê Brown.
Die kinderkunsprojek is een van Suid-Afrika se oudste maatskaplike beleggingsprojekte en is in 1963 begin om die idee te ontwikkel dat kuns ‘n waardevolle aspek van menslike ontwikkeling is. Alhoewel die projek daarop gemik is om ‘n liefde vir kuns onder die jeug te bevorder, bied dit hulle ook die geleentheid om gedagtes en idees kreatief uit te druk. Deur die jare het die Santam-projek ontwikkel tot ‘n nasionaal erkende inisiatief wat nou ‘n nasionale kunskompetisie insluit, ‘n aanlyn-uitstalling van geselekteerde kunswerke, ‘n kunskalender en informele kunssentrums by skole regoor die land.

Gitte se kunswerk, Somerbriesie

Twaalf wenkunswerke, volgens die tema ‘Bursting with colour’, is vanjaar gekies om in die 2018-eeufeeskalender te verskyn. Santam het vanjaar 4 219 landwye inskrywings ontvang.
Pieterse was oorweldig met vreugde toe sy hoor dat haar kunswerk gekies is. “Ek het dit regtig nie verwag nie en is so gelukkig.”
“Gitte werk baie hard en haar leuse in die lewe is om jou nooit te onderskat nie. Sy glo dat as jy nie probeer nie, jy nooit sal slaag nie,” sê Brown.
“Ek wil hierdie geleentheid gebruik om Santam te te bedank vir die bevordering van kinderkuns en vir die welkome geld wat geskenk word, wat ons elke jaar ontvang. Dit help skool om die beste kunsvoorrade te koop. Ek sien daarna uit om volgende jaar weer aan te sluit, “sê Pieterse.
Gitte se tekening is getiteld: Somerbriesie.

JERETHA OOSTHUIZEN 
jeretha@mahareng.co.za