Joan Hambidge bied slypskool aan

0
948
Prof. Joan Hambidge sal eerskomende Saterdag die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se slypskool aanbied.

Augustusmaand is slypskoolmaand vir die Bloemfonteinse Skrywersvereniging (BSV).
Op Saterdag, 20 Augustus 2016 van 9:00 tot 15:00 (registrasie begin 8:15) vind die BSV-Slypskool 2016 met prof. Joan Hambidge in die saal van die Noorderbloem-aftreeoord, Metzstraat, Bayswater, plaas.
Volgens Corlietha Swart, voorsitter van die BSV, bied vanjaar se BSV-slypskool vir elke gesoute of potensiële digter of skrywer die gulde geleentheid om by een van die bekendste Afrikaanse digters (Hambidge), die fynere kunsies van veral die digkuns te bestudeer. Afriforum borg vanjaar se slypskoolaanbieder.
Hambidge is nie net ‘n bekroonde digter en wenner van Eugène Marais- en ATKV-pryse vir poësie met meer as 10 digbundels op haar kerfstok nie, maar ook romanskrywer van ‘n hele aantal romans, skrywer van ‘n opera en vele akademiese geskrifte. Verder is sy ook ‘n bekende en gerekende resensent en akademikus (onder meer in kreatiewe skryfkuns) by die Universiteit van Kaapstad. Hambidge sal vooraf ook twee gedigte vra.
Die koste van die slypskool is R160 vir BSV-lede (ook as u nou as lid aansluit by hierdie dinamiese skrywersvriendekring), of R300 vir nie-lede. Almal welkom! Middagete en snoephappies, asook ‘n handleiding met gedigte, is by die prys ingesluit. Tydens die geleentheid vind die prysuitdeling van die wenners van die pas-afgelope nasionale BSV-Skryfwedstryd 2016 ook plaas en die publikasie, Inkvars 2016, wat die weninskrywings en beoordelaarsverslae bevat, word ook bekendgestel.
Protea Boekwinkel verkoop ook heeldag boeke oor kreatiewe skryfkuns tydens die geleentheid en die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) stal tydens die geleentheid uit. Aangesien daar ‘n beperkte aantal slypskoolgangers geakkommodeer kan word, moet diegene, wat graag die slypskool wil bywoon, spoedig met die BSV kontak maak by bloemsv@gmail.com of met Lelani by 073-388-3377 (na ure).