Jayme-Sue klop mans en vroue in driekampwedloop

0
553
Die talentvolle multisportatleet, Jayme-Sue Vermaas het Saterdag by ‘n driekampbyeenkoms wat by Maselspoort in Bloemfontein beslis is gewys sy is slaggereed om Suid-Afrika se senior elite-vroue driekampatlete behoorlik die stryd aan te sê. Sy het algehele oorwinning gesmaak in ‘n ekstra langafstand driekampnommer (1,9km swem, 60km fietsry en 15km hardloop) en dit sluit alle mans en vroue van alle ouderdomsgroepe in. FOTO: LLEWELLYN LLOYD/ REBLEX.

Die blondekop buksie van die Kovsies-atletiekklub, Jayme-Sue Vermaas, het Saterdag tydens ‘n driekampbyeenkoms by Maselspoort in Bloemfontein in haar laaste wedloop as junior atleet ‘n vertoning opgedis wat ‘n skitterende senior loopbaan voorspel.

Die organiseerders van die byeenkoms het Saterdag goedgunstelik voorsiening gemaak vir atlete wat hulle wil slyp vir die, wat bekend staan as die “Half Ironman”, wat einde Januarie in Buffalo City beslis word. Hulle het sodoende ‘n driekampwedloop oor ‘n langer afstand as die standaard-driekampafstande aangebied en atlete in dié wedloop moes aanvanklik 1,9 km swem, daarna 60 km fietsry en eindig met ‘n 15 km-hardloopskof.

Die 19-jarige Vermaas het besluit om dié wedloop te takel en in die onder 23-afdeling ingespring as voorbereiding vir ‘n besige eerste jaar as senior atleet in 2018. En, sy het behoorlik tande gewys vir die res van Suid-Afrika se voorste elite- senior driekampers wat sy in 2018 die stryd gaan aansê.

Vermaas het van meet af aan die pap dik aangemaak en ná ‘n skitterende swemskof (1,9 km) was sy onstuitbaar. Sy het uiteindelik algehele oorwinning gesmaak, en dit sluit mans en vroue van alle ouderdomsgroepe in wat saam met haar aangetree het. Sy het in 3:31:17 geseëvier en haar laaste skof, die hardloopskof oor 15 km, in ‘n skitterende 1:07:54 (nie amptelik) voltooi.

Nog ‘n bekende atleet in multisportkringe, Jaco Ebersohn, het algeheel tweede geëindig in 3:32:36. Hoewel hy die gaping goed toegemaak het op Vermaas in die hardloopskof, het hy uiteindelik steeds meer as ‘n minuut in Vermaas se agterkop vasgekyk. Ebersohn het die afdeling vir mans (25 tot 29 jaar) gewen.

Hy is gevolg deur Hannes Otto (3:38:30) wat die afdeling vir mans 35 tot 39 jaar gewen het en Adriaan Venter wat oorwinning gesmaak het in 3:49:45 in die afdeling vir mans 40 tot 44 jaar.

Vermaas se pa, Adri, het hom self goed van sy taak gekwyt deur algeheel vyfde te eindig en die afdeling vir mans 55 tot 59 jaar beklink in 3:54:19.

Sarah Sparks, wat die afdeling vir vroue 30 tot 34 jaar gewen het in 4:07:10 was algeheel tweede onder die skoner geslag en Louisa Fourie (30 tot 34 jaar) het algeheel derde geëindig in 4:33:02.

Die voormalige Paralimpiese kampioen (Sydney, 2000) in die spiesgooi, Nicolas Newman, stuit vir niks nie. Hierdie yster het die afdeling vir atlete met liggaamlike gestremdhede gewen in 4:26:15 en sodoende onder die voorste linie geëindig onder atlete sonder liggaamlike gestremdhede. – RUFUS BOTHA