Hou só jou kind besig in die vakansie

0
310
Stuur jou kind vir lekker aktiwiteite as jy moet werk in die vakansie. FOTO: HIGHWAY MAIL

Die Desembervakansie is hier en vir baie ouers is dié tyd ‘n kopseer omdat hulle nie altyd weet hoe hul kinders besig gehou kan word nie.
Daar’s goeie nuus vir werkende ouers. Verskeie plekke in Bloemfontein bied aktiwiteite aan om elke kind gelukkig te hou.
Van 7 tot 13 Desember bied Oliewenhuis Kunsmuseum verskeie vakansiewerksessies aan vir kinders van vyf jaar en ouer. Hulle kan hier elke dag leer om iets anders te bou. soos bv. ‘n akwarium en marionette. Die werksessie vind elke dag van 12:00 tot 15:00 plaas en koste beloop R70 per kind. Alle materiaal word verskaf.
Van 4 Desember tot 11 Januarie 2018 word vakansiekampe aangebied wanneer kinders vir ‘n twee-dae-een-nag-kamp by Haldon Estate kan kom uitspan. Hulle sal vermaak word en aan verskeie aktiwiteite kan deelneem. Alle kinders tussen die ouderdom 10 en 15 jaar is welkom. Koste beloop R450 per kind en sluit kos, tente en aktiwiteite in. Vir meer inligting, kontak gerus vir Madelé by 076-747-7071 of stuur ‘n e-pos na info@growingambitions.co.za.
Nog ‘n aanloklike speelplek is Jumpers Lane. Kinders kan hier heerlik saam met maats trampolien spring en speel. Vir meer inligting, bel gerus 051-011-0024 of stuur ‘n e-pos na info@jumperslane.co.za.

JERETHA OOSTHUIZE
jeretha@mahareng.co.za