Hoe SA se afgradering jou kan raak

0
368

Jacob Zuma is onvoorspelbaar en sy aksies word meestal gedryf deur ‘n beheptheid vir mag, en die bevordering van sy eie belange.Toe hy gevolglik ‘n tydjie gelede sy kabinet herskommel het, was dit dus eintlik niks snaaks nie. Ons het geweet dat hy dit gaan doen. Ons het net nie geweet wanneer hy dit gaan doen nie. Weereens was dit magsvertoon en ‘n waarskuwing aan die ANC-kamerade wat hom teenstaan, dat hy steeds Nommer 1 is.
Deur baie bevoegde ministers met ‘n spul onbevoegde ministers te vervang, dui daarop dat hy strategiese posisies in die staat onder sy beheer wil kry (ek verwys spesifiek na die minister van finansies).
Nou hoekom sou hy so iets wou doen? Vergelyk ‘n oomblik Malusi Gigaba met Pravin Gordhan. Gigaba het geen ervaring of kennis ten opsigte van die ekonomie en besigheid nie, terwyl jy vir Gordhan baie min van finansies, ekonomie en besigheid sal kan leer.
Gordhan het die staatsfinansies baie streng bestuur, en waar moontlik onnodige uitgawes probeer beperk. Gevolglik was hy ‘n stok in Zuma se wiele, en kon Zuma nie sy eie belange “bevorder” met staatsfinansies nie.
Dink maar net aan Nkandla en al die bedenklike tenders. Hoeveel geld en geloofwaardigheid is die laaste paar jaar nie al vermors en vernietig nie. Dink maar net aan waar ons land al kon gewees het, was dit nie vir ‘n man soos Zuma nie.
Natuurlik gaan die afgradering se nagevolge deursypel na die man op straat, en soos gewoonlik gaan Zuma se dade die armes die meeste benadeel. Dit is eintlik ironies dat Zuma homself as ‘n vegter vir die armes se regte beskou.
Hoe die hele afgraderingspektakel van hier af verder gaan uitspeel, sal bepaal teen watter vlakke Suid-Afrikaners benadeel sal word. Suid-Afrika se buitelandse skuld gaan baie duurder kos. Ons kan onaantreklik word vir buitelandse beleggings, en die bietjie buitelandse investering wat wel plaasgevind het, kan weer land-uit verdwyn.
Die rand kan nog heelwat verswak indien die afgraderingskok nie reg gehanteer word nie. Inflasie gaan styg, wat ‘n rentekoersverlaging later die jaar onwaarskynlik maak. Rentekoerse kan inteendeel verhoog. Om sake te doen gaan moeiliker en duurder word, en die uiteinde van alles gaan werksverliese wees. Natuurlik is die rimpelingseffek van die onlangse droogte ook nog teenwoordig, wat die gevolge van die afgradering kan vererger.
Alles is egter nie verlore nie. Indien jou beleggingsportefeulje (pensioenfonds, voorsorgfonds, uittree-annuïteite en enige ander belegging) goed gediversifiseer is, sal jy al die skokke oorleef, en steeds goeie langtermynopbrengste verdien. Bly by jou beleggingstrategie. – Horace Terry
horace@nassaux.com