Hoe om jou welvaart te beskerm

0
299
Beskerm jou welvaart.

Laasweek het ons gesels oor hoe jy kan begin om welvaart te skep. Die belangrike punt wat ek wou maak, is dat jy nie noodwendig geld nodig het om geld te maak nie. Jy begin welvaart opbou wanneer jy gefokus en gedissiplineerd is, en met tyd sal jy sukses behaal. Ek het voorgestel dat jy moet begin om elke maand, gedissiplineerd, ’n paar rand weg te sit in ’n effektetrustfonds, al is dit net R200 per maand. Met tyd sal jy kapitaal opbou wat jy in ander projekte kan aanwend, en so skep jy oor tyd welvaart. Daar gaan egter ’n dag kom wat jy baie verrig het, en soos wat jy meer suksesvol word, raak jou risiko’s ook groter. Soos wat jy dus jou roete om welvaart te skep, beplan, moet jy ook besluit oor hoe jy die welvaart gaan beskerm teen die dag wat die wind teen jou mag draai, of vir as jy onverwags tot sterwe sou kom. Die meeste van ons versamel bates en maak allerhande planne oor wat om met ons welvaart te doen sodat dit darem eendag ten minste ons nageslag sal bevoordeel. Jy wil dus nie een oggend wakker word met krediteure op jou stoep wat kom beslag lê op dit waarvoor jy hard gewerk het nie. Jy wil ook nie hê dat wanneer jy die dag tot sterwe kom, ’n groot deel van jou rykdom afgestaan moet word aan boedelkoste en belasting nie. Bogenoemde is maar net twee dinge wat kan skeefloop, daar is egter veel meer gevare waarteen jy jou moet beskerm. Ek vereenvoudig die scenario ook heelwat, maar die belangrike punt wat ek wil maak, is dat jy vroegtydig moet begin met boedelbeplanning. Die resultaat van jou boedelbeplanning sal vir jou aandui waar die leemtes in jou finansiële beplanning lê, en jy sal vroegtydig kan begin om jou welvaart te beskerm deur moontlik ’n trust op te rig en/of voldoende lewensversekering te kry, om enige koste en belasting by afsterwe te dra. Volgende week ’n bietjie meer oor trusts. – Horace Terry

horace@nassaux.com