Groot geeste stel godsdiensboek bekend

0
82

In ‘n wêreld wat al hoe meer onverdraagsaam met mekaar raak, is dit vir ‘n multikulturele land soos Suid-Afrika met sy smeltkroes van gelowe veral belangrik dat burgers mekaar se kulture, gelowe en gebruike verstaan.
Dit was die motivering agter die skryf van Die groot 5 Godsdienste, ‘n insiggewende Afrikaanse boek wat die Abrahamitiese godsdienste, Judaïsme, die Christendom en Islam, asook twee Vediese godsdienste, naamlik Hindoeïsme en Boeddhisme, bespreek.

Prof. Nico du Plessis
Prof. Nico du Plessis

Prof. Nico du Plessis, redakteur van die boek, vertel hy het in 2014 reeds met die gedagte vir só ‘n tipe verwysingsboek gespeel. “Ek het verskeie skrywers genader wat almal baie daarin geïnteresseerd was, maar eenvoudig nie die tyd gehad het om al hul energie daarin te sit nie. Die doel van die boek is nie om enigiemand te indoktrineer nie, maar eerder om te help dat ons die mense rondom ons beter verstaan. Dit was my begeerte om ‘n inleidende boek oor die belangrikste godsdienste van die wêreld vir die algemene publiek asook skoolleerders, daar te stel.”
‘n Jaar of wat gelede het sy paaie met dr. Manie Wolvaardt, oud-dosent in Letterkunde, gekruis, wat groot belangstelling in die projek getoon het. Só is Du Plessis se geesteskind in die lewe geroep en is die boek amptelik verlede week bekendgestel.
Wolvaardt sê hy het probeer om nie uit ‘n bepaalde perspektief te skryf nie. “Dit is belangrik vir die leser om self die godsdienstige waarhede in die feite te identifiseer. Die boek is van alle teologiese pretensie gestroop.”

Dr. Manie Wolvaardt
Dr. Manie Wolvaardt

Hy voeg by die boek ondersoek ook tradisionele Afrika-godsdiens en hoe hierdie vyf gelowe ‘n invloed daarop gehad het.
Vir maklike vergelyking word al die godsdienste volgens ooreenstemmende onderafdelings toegelig, naamlik oorsprong, ontwikkeling en groei van elkeen, wat hul geloofsoortuigings is, watter gesagbare bronne dit ondersteun en die bestuurstrukture wat dit onderhou, tipiese opvallende kenmerke van die onderskeie gelowe, hul geloofspraktyke en gepaardgaande feestelikhede, asook die eiesoortige simboliek, kuns en argitektuur van elkeen. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za

BRUIKBARE NUUUS

Die groot 5 GoDsDienste is tans teen R195 by Protea Boekwinkel in die Brandwagsentrum beskikbaar en behoort vroeg volgende jaar ook in Engels te verskyn.