‘Groen Ekspo’ vir Bloem op pad

0
545
Kom leer by die Bloemskou Go Green Expo, in samewerking met Bloemfontein Courant, hoe jy 'n bydrae tot die natuur kan lewer.

Suid-Afrika, en meer spesifiek die Vrystaat, ervaar tans een van die ergste droogtes in 20 jaar. Buitensporige verhogings in krag- en watertariewe gaan ongetwyfeld verdere druk op almal plaas. Dit beteken die tyd vir die land se inwoners om innoverend te dink en planne te beraam oor hoe om groener te leef, is hier. Nou gaan dit nie net meer oor geld spaar nie, maar ook om by die natuur aan te pas.
Besoekers aan volgende jaar se Bloemskou kan dus ‘n eerste vir die skou ervaar – ‘n ‘Groen Ekspo’ waar nuwe produkte en patente vertoon sal word om jou te help in die proses van ‘groen gaan’.
Bloemskou het besluit om in 2017 die eerste Go Green Expo in samewerking met Bloemfontein Courant tydens die Bloemskou aan te bied. Hierdie ekspo sal met ‘n hele paar eerstes spog.
Volgens Marie-Louise Smith, een van die organiseerders, word daar gepoog om die ekspo so aanloklik as moontlik vir uitstallers van ‘groen produkte’ te maak. “Bloemskou bied ‘n baie mededingende pakket teen ‘n afslagtarief aan.” Die ekspo sal tydens die eerste drie besige dae van Bloemskou, van 27 – 29 April 2017, plaasvind.
“Menige inwoners van Bloemfontein en omgewing, asook inwoners van die platteland, ondersoek toenemend maniere om hul gryswater te benut om hul tuine mee te besproei. Die plant van groentetuine in die agterplaas is nou weer hoogmode, maar met die waterbeperkings wat tans geld, moet gryswater ook met pype en toestelle herlei word na dié tuine. Die ekspo wil dus vir besoekers aan die Bloemskou produkte ten toon stel en demonstreer wat hulle hiermee kan help,” sê Smith.
Sy noem ook dat Spoudazo Enterprizes, ‘n instansie wat groentetonnels in informele gebiede in en om die groter Bloemfontein installeer, ook betrokke is by die ekspo. “Hulle gaan eersdaags ‘n groentetonnel oprig en besoekers aan die skou sal tydens die skou in Aprilmaand kan sien hoe groente in dié tonnel gekweek word. Die groente wat hier gekweek word, sal deur Bloemskou aan liefdadigheidsorganisasies geskenk word.”
Produkte wat help met die besparing van krag, sal ook deel vorm van hierdie inisiatief. Die installering van sonpanele en beligting wat energie bespaar, kan verbruikers help om minder afhanklik te wees van die nasionale kragnetwerk. Sodoende voel elke huishouding die verligting ook aan hul sakke.
Uitstallers wat waarde kan toevoeg tot hierdie inisiatief en betrokke is by enige vorm van groen produkte, van herwinningsopsies tot sonverhitting, water- en kragbesparings-oplossings en produkte wat hiertoe bydra, kan Smith kontak by 083-287-8845 of ml@zigzagcreations.co.za om by die Go Green Expo, betrokke te raak. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za