#GrobbelaarGroetUV

0
716

Dit was alles daardie lastige vlieg in die restaurant se skuld. Ek het destyds semi-voltyds geboer terwyl my vrou in die stad gewerk het. Toe ek een weeksoggend vroeër as beplan terugkom van die plaas af, bel ek haar en nooi haar vir koffie.
Sy frons effens toe sy my kortbroek en Crocs sien, maar sy sê niks nie. Dis eers toe ek opspring en met my sandaal die vlieg teen die muur doodslaan, dat sy haar nie meer kon inhou nie. “Nee, magtag,” grom sy. “Dis tyd dat jy weer ‘n ordentlike werk kry en maniere leer.”
En net daardie Saterdag, terwyl ons tennis speel, vra sy vir my vriend, Johann de Wet, of hy nie werk vir my het nie. Hy is hoof van die Dept. Kommunikasiewetenskap by die Unversiteit. “Stel jy belang?” vra hy. Ek lag vir hom. My stokou honneursgraadjie in wysbegeerte is geen paspoort tot ‘n akademiese loopbaan nie.
Lang storie kort: Dit blyk toe dat daar juis in daardie stadium ‘n vakature in die departement is en dat hulle spesifiek op soek is na iemand met ‘n bietjie praktiese ervaring in die joernalistiek. En voordat ek kan sê dankie-maar-nee-dankie staan ek bewend voor my eerste klas studente.
Dit was tien jaar gelede. En verlede week het ek my heel laaste klas aangebied. Daar’s ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan. ‘n Mens wil darem ook nie wag totdat jy een oggend op Twitter sien die kuberruim kook met die hutsmerk #GrobbelaarMustFall nie!
My dekade op die kampus was in alle opsigte ‘n ongelooflik verruimende en vreugdevolle ervaring. Ek het waarskynlik veel meer by die studente geleer as hulle by my. Die jongmense se energie en positiewe uitkyk op die lewe laat ‘n mens met nuwe oë na die wêreld kyk. En hoe wonderlik is dit nie om te sien hoe van jou oudstudente die beroepswêreld betree en presteer nie.
Baie baie dankie aan almal wat deel was van hierdie onvergeetlike reis. En as jy dan ‘n hutsmerk wíl hê: #GrobbelaarIsHappy

ALBÉ GROBBELAAR