Grey en Fichies wen laerskole sewesrugby

0
2025
Laerskool Fichardtpark het Saterdag koning gekraai in die o.11-afdeling van die Fichies Sewes- rugbytoernooi wat by Fichardtpark aangebied is. Voor, van links, is Keagan Scholtz, mnr. Jan Brits (afrigter), Zaine van Zyl en Jaco Grobbelaar; in die middel is Dandré van der Merwe, Pieter Oberholzer, Ulrich Campher en Ralph Swanepoel; en agter is Janco van Wyk, Henrico van der Watt en Michael Cruywagen. FOTO: SANDRA BRITS

Grey-kollege en Fichardtpark het Saterdag koning gekraai in onderskeidelik die o.13- en o.11-afdelings by die Fichies Sewes-rugbytoernooi vir laerskole wat by Fichardtpark aangebied is.

Grey het in die 0.13-eindstryd vir die Laerskool Universitas (Tjokkies) met 27 – 5 geklop om die beker-afdeling te oorheers. Grey se Gerhard Steyn is aangewys as Speler van die Wedstryd.

Fichies se o.11’s was in die eindstryd slaags met Grey (C-span) en ná puik rugby wat die gasheer, Fichies, opgedis het, het hulle dié afdeling maklik beklink met ‘n telling van 29 – 19.

Dit is interessant dat Grey se A-span reeds in die halfeindstryd die aftog geblaas het teen Fichies (19 – 10). Keegan Scholtz is ná die eindstryd teen Grey C aangewys as Speler van die Wedstryd.

In die plaat-eindstryd in die o.13-afdeling het Harmony (Virginia) die kitaar geslaan deur Brandwag (Bloemfontein) met 24 – 0 te verslaan. Tshepo Lehokloe (Harmony) was Speler van die Wedstryd.

Die eerbewys vir Speler van die Toernooi is aan die woelige Zaine van Zyl van die Fichies o.11-span toegeken. – RUFUS BOTHA