Goud, silwer en brons vir Oliviers op Cape Agulhas MTB

0
959
Chanté Olivier is Saterdag op pad om die knoop deur te haak om as Nasionale XCO bergfietsreeks koningin gekroon te word in die afdeling vir meisies 13 – 14-jaar. FOTO: PIETER OOSTHUISEN

Vir ‘n beter vertoning deur lede van een gesin kon jy nie gevra het as dié van die Oliviers van Bloemfontein op Saterdag se Cape Agulhas MTB (bergfietsry) Classic-byeenkoms nie.
Pa Dercksen het in die 46km saam met sy dogter, Chanté, ingespring en hoewel Chanté se speke vinniger as dié van Dercksen gesing het, het Dercksen die afdeling vir veterane: mans, gewen. Hy was algeheel 16de in die wedren. Daar het nie minder nie as 131 jaers dié wedren voltooi.

Die 13-jarige Chanté, wat vir die Aerocare Bloemfontein Courant-span jaag, het oudergewoonte met ‘n skitterprestasie vorendag gekom toe sy algeheel 13de geëindig het in ‘n tyd van 2:18:20. Sy was tweede onder die skoner geslag en dit sluit alle ouderdomsgroepe in. Sy is slegs deur die 24-jarige ystervrou, Carla Beyers (2:05:57), agterweë gelaat.

Josephine Matterson, wat die rit in 2:19:54 afgelê het, moes vanuit die derde plek in Chanté se agterkop vaskyk.

Toe verskyn daar nog ‘n medalje op die Olivier-horison. Die jonger sussie van Chanté, Savanah, wat slegs sewe jaar oud is, het besluit om die 10km-wedren aan te pak en eindig algeheel 16de – mans en vroue inkluis. En daar was nie minder nie as 117 deelnemers wat die wedren voltooi het.

Savanah het derde in die afdeling vir meisies onder 18 geëindig in ‘n kookwatertyd van 45:06. Sy is slegs deur die 15-jarige Lara Wessels (42:45) en die 11-jarige Shelby Rosslee (43:29) getroef.

Neil Thiart van Bloemfontein het self ‘n goeie wedren agter die blad. Hy was algeheel tweede in die 46km-wedren in ‘n haastige 1:55:46 en het slegs teen Ben Fish (1:53:07) die knie gebuig. Thiart het die derde jaer, Jean-Louis Strydom (2:02:04), ver agterweë gelaat.