Goeie kans op reën in binneland

0
455
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel ‘n goeie kans op reën in ‘n groot deel van die sentrale binneland oor die volgende twee dae.

‘n Weervoorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, Tumi Phatudi, sê daar is ‘n 30% tot 60% kans op buie- en donderbuie vandag oor die hele Vrystaat. ‘n Waarskuwing van erge donderstorms is ook uitgereik. Geïsoleerde buie- en donderbuie kan oor die verre suidwestelike en noordoostelike deel voorkom.

Sy sê die vooruitsigte op reën in Noordwes vandag is dieselfde as in die Vrystaat. In die Noord-Kaap is daar vandag ‘n 30% kans op geïsoleerde buie-en donderbuie in die verre oostelike deel met ‘n 60% kans op verspreide buie-en donderbuie môre.

Wydverspreide reën kan in die verre westelike deel van die Noord-Kaap voorkom. Phatudi voorspel ook ‘n 60% kans op verspreide buie-en donderbuie môre vir die Vrystaat en Noordwes.

Geïsoleerde buie kan in die noordoostelike deel van Noordwes voorkom.

Reën kan voorkom weens ‘n afsnylaag in die westelike deel van die land. Dit veroorsaak onstabiliteit in die bolug oor die land. Sy sê ‘n hoëdrukstelsel in die bolug is teenwoordig in die noordelike deel van die land wat vog van die trope onttrek. Dit veroorsaak geïsoleerde buie-en donderbuie oor die sentrale binneland wat na die oostelike deel van die land beweeg.

Die weerkantoor waarsku ook dat erge donderbuie in die noordoostelike deel van die Noord-Kaap, wat tot vloede kan lei, môre kan voorkom. Die waarskuwing geld ook vir die westelike deel van Noordwes.  – Christal-Lize Muller