Gesloer met onderwys-aanstellings kring uit

0
775

Die effek van die onvermoë van die Departement van Onderwys in die Vrystaat om geskikte kandidate in vakante poste by skole, en veral bestuursposte, aan te stel, kring uit. Die onderwysstelsel ly in geheel daaronder en talle skole word geraak.
Dit kom nadat die departement aanvanklik ‘n moratorium op alle aanstellings, behalwe poste in wiskunde, wetenskap en rekeningkunde, tot einde Maart vanjaar ingestel het. Die moratorium is egter teruggetrek nadat die departement verlede maand die wind van voor gekry het van vakbonde en ander belanghebbendes. Die departement het daarna onderneem dat bevorderingsposte, wat skoolhoofde, adjunkhoofde en departementshoofde insluit, asook posvlak 1-poste wat gewone onderwysers insluit, gevul gaan word. Die aanstellingsproses vind egter teen ‘n slakkepas plaas en skole dra nou swaar aan die gevolge.
Die HTS Louis Botha in Bloemfontein is een van die skole waar die algemene bestuur van die skool tot nadeel van onderrig strek. ‘n Ingeligte bron, wat verkies om anoniem te bly, sê 17 mense het sedert verlede jaar by dié skool bedank. Daar is ook meer leerkragte wat nou oorplasings na ander skole oorweeg of vroeër wil aftree. Twee adjunkhoofposte by die skool is steeds vakant. Volgens die bron is leerkragte, wat die afgelope ses maande in die poste waargeneem het, verlede Donderdag deur die beheerliggaam in kennis gestel dat dié poste weer geadverteer gaan word. Hulle gaan ook nie meer in die poste waarneem nie. Dit ondanks die feit dat die beheerliggaam al verlede jaar aanbevelings gemaak het oor die vul van dié poste. Die meeste leerkragte aan die skool is nou ontevrede oor die gesloer om die poste te vul en meen die skool kan weens dié vakante poste nie doeltreffend bestuur word nie.
Die bron sê departementshoofde het hulle reeds van hul bykomende take onttrek en spits hulle slegs op onderrig en hul buitemuurse pligte toe. Bykomende take behels onder meer hul betrokkenheid op komitees of positiewe bydraes wat onderwysers buiten hul normale pligte lewer. Leerkragte het ook uit die skool se bestuurspan bedank. Die vinger word verder gewys na dié skool se beheerliggaam wat glo “verskuilde agendas oor aanstellings het”. Die algemene opvatting deur ontevrede leerkragte is dat die beheerliggaam nie oop kaarte met hulle speel nie. Inligting word nie “korrek deurgegee nie”.
Die onderwysunie SAOU sou na verwagting Dinsdagmiddag met ontevredeleerkragte aan die HTS Louis Botha vergader oor die spanning by dié skool weens vakante poste.
Die SAOU se Reniel Lodewyk sê dié unie is bewus van die situasie by HTS Louis Botha en die SAOU wil nou die departement uitdaag om dié skool se beheerliggaam te ontbind. “Ons het ‘n mandaat bekom van ons nasionale kantoor dat ons die departement, in oorleg met ons regspan, kan dwing om die skoolbeheerliggaam te ontbind.” Hy sê die departement versuim steeds om amptelike terugvoer te gee oor hoe die aanstellingsproses, veral in bestuursposte by ander skole in die provinsie, gaan plaasvind. “Ons het verlede week aan die departement ‘n spertyd van 48 uur gegee om te reageer op die aanstelling van mense in sekere kernposte ( bestuursposte). Die departement het nie gereageer nie. Die SAOU het intussen verneem dat skoolhoofposte by die Hoërskool Sentraal en Laerskool Willem Postma gevul is.
Lodewyk sê die SAOU se volgende stap is om met betrokke skole te konsulteer en duidelikheid te verkry, waarná die departement regstappe gaan doen. Lodewyk sê daar is ses skole waarvan bestuursposte nog nie gevul is nie. Daar is meer skole, maar hulle wil nie betrokke raak nie. Die SAOU is ongelooflik gefrustreerd met dié stadige proses om vakante poste te vul, sê hy. – Christal-lize Muller 
christal-lize@centralmediagroup.co.za