Gemengde gevoelens oor steengroef-heining

0
794
Die nuut-opgerigte heining by die ou Corobrik-steengroef in Heidedal. FOTO: MARK STEENBOK

Daar heers gemengde gevoelens onder die gemeenskap van Heidedal in Bloemfontein oor die oprigting van ‘n omheining by die omstrede steengroef.
Die ou Corobrik-steengroef was in Februarie 2016 in die nuus nadat ‘n 16-jarige seun, Justin Jacobs, verdrink het toe hy saam met vriende gaan swem het. Verskeie gemeenskapslede het intussen onverpoosd agter die skerms gewerk om te verseker dat daar sekuriteitsmaatreëls by die groef getref word.
Die eerste fase in die omheining van die gebied het laat verlede jaar begin toe die gebied tussen Twin City-winkelsentrum en die steengroef met ‘n palissade-omheining afgebaken is.
‘n Gemeenskapsaktivis, Gregory Werner, noem dat hoewel die proses begin het om die gebied te omhein, dit nie die probleem oplos nie. “Ek is bly dat daar al tekens is dat die gebied omhein gaan word. Dit is egter net een gedeelte wat toe is (die agterkant), die publiek het steeds toegang tot die steengroef. Kinders kan steeds daar swem. Die gemeenskap se veiligheid bly vir ons ‘n belangrike kwessie,” sê Werner.
Die eienaar van die Imbazo Trading 16-groep wat die grond besit, Nicholas Fountain, vertel dat die proses om die hele gebied toe te kamp R5 miljoen sal kos en dat dit nie oornag kan gebeur nie. Hy sê daar moet streng aan munisipale regulasies voldoen word.
Fountain werk ook as ontwikkelaar by die Witherowdam-ontwikkeling by die steengroef en sê die projek is op dreef.
Dit bestaan 40% uit nywerheids-, 40% uit behuisings- en 20% uit kommersiële ontwikkeling. Die R1,3 miljard-bouprojek behoort oor vyf jaar voltooi te wees. Fountain sê die onlangse reën het ontwikkeling vertraag. Hulle hoop om in Februarie met die infrastruktuur van die eerste fase te begin. Hy sê voordat daar enige huise verkoop sal word, sal die hele gebied omhein wees.
Verskeie gemeenskapslede het hul mening op Facebook uitgespreek en voel as die gemeenskap saamstaan, verandering kan kom. Hulle bly bekommerd oor die kinders wat steeds daar gaan swem. Werner meen dat menselewens nie gelykgestel kan word aan die som geld wat só ‘n omheining sal kos nie. – Mark Steenbok 
mark@centralmediagroup.co.za