Gemeenskap en kunstenaars vier Braaidag in Heidedal

0
970
Shan-Lee en Shanelle is van die kunstenaars wat tydens die Heidedal Braai Day Celebrations sal optree.

Erfenis- of Braaidag, seker een van Suid-Afrikaners se gunsteling-vakansiedae, word vandeesmaand op 24 September gevier. Hier in Bloemfontein is dit natuurlik ook nie anders nie.
Vanjaar se vieringe sal plaaslike braai-entoesiaste laat uitsien na ‘n inisiatief wat die plaaslike gemeenskap sal saambring.
Die Heidedal-braaidagvieringe, of soos die amptelike naam, Heidedal Braai Day Celebrations, beskryf, is die geesteskind van dr. Nathan Bagarette, voormalige hoof- uitvoerende beampte van Pacofs en word op Braaidag in die Clive Solomon-stadion in Heidedal gehou.
Bagarette vertel hy het sowat tien jaar gelede die idee gekry om `n fees in Heidedal te begin nadat hy besef het hoe die artistieke talent in Heidedal verwaarloos word. “Die Heidedal-braaidag wil ‘n platform skep vir plaaslike kunstenaars. Talle kunstenaars sal deur die loop van die dag optree om feesgangers te vermaak met dans, musiek en komedie. Die jeug van Heidedal word toenemend blootgestel aan dwelmmisbruik. Ons wil die kunstenaars gebruik om `n positiewe boodskap aan die jeug oor te dra. Die kunste word oral in die wêreld ingespan as `n middel om die sosiale euwels in `n gemeenskap aan te spreek,” sê hy.
Bagarette sê die dag kan bygewoon word deur families en die jeug van Heidedal en omliggende gebiede. Hy nooi mense om uit te kom ná die winter en as `n gemeenskap gesellig saam te braai.
Van die bekende sangers wat gaan optree, sluit onder andere in Piyet, Percy, TJ Andrew, Bankie Da Rapper, Thato, Deda, Vincent en Vicus, Gershwin en die Stone-susters, Shan-Lee en Shanelle. Die platejoggies wat in aksie sal wees, is DJ Shaxe, DJ Kirbin Blow, DJ Dick en DJ Suspect. Die dansgroepe is Skeem Sa Dankie en Lollie Boys. Die seremoniemeesters is Piyet, Charlton, E-Tone en `n OFM-aanbieder.
Volgens Bagarette gaan die dag vol pret wees. Daar sal hope pryse wees om te wen en tussen die program deur sal persone uit die gehoor geroep word vir karaoke. Die hekke van die Clive Solomon-stadion open om 10:00 en die dag word teen 23:00 afgesluit. Feesgangers moet hul eie vleis, braaiers en kampeerstoele bring. `n Biertuin sal beskikbaar wees.
Kaartjies vir die braaidag kan vooraf by Dasie’s gekoop word teen R50 ‘n kaartjie of op die dag by die hekke.
Volgens Bagarette beoog die organiseerders om die Heidedal-braaidag `n jaarlikse instelling te maak. – Maricelle Botha
maricelle@centralmediagroup.co.za