Geen genade vir kriminele dié feesseisoen

0
521
Plaaslike owerhede is gereed vir booswigte dié komende Kersseisoen.

Die polisie in die Vrystaat sal die komende feestyd geen geduld met kriminele hê nie.
Die provinsiale polisiekommissaris, Jacob Tsumane, het ‘n streng waarskuwing aan misdadigers gerig en gesê die polisie gaan toeslaan. Hulle sal poog om deur die nasionale Back to Basics-veldtog, wat reeds sedert Oktober in die provinsie in werking is, misdaad hok te slaan. Die doel van die veldtog is om misdaad te help bekamp oor die feestyd, met die fokus op veral polisiesigbaarheid, misdaadintelligensie, goeie speurwerk en noue samewerking met die gemeenskap.
Tsumane sê polisielede werk hard en meer as 1 200 inhegtenisnemings is reeds gedoen. Deur die veldtog sal die polisie ook op veral gewapende en transito-rooftogte by winkelsentrums fokus, asook huisinbrake wat reeds sedert Oktober begin toeneem het.
Intussen sê Pieter Myburg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, dat misdaadstatistieke veral oor die feestyd toeneem. “Dit is definitief ‘n probleem oor die feesseisoen. Baie mense gaan met vakansie of is uitstedig, dus is daar ‘n groter kans vir misdaad.” Hy sê dat die buurtwagte hul patrollies gaan opskerp. “Ons gaan veral ons dag-patrollering opskerp en die polisie en nooddienste bystaan waar nodig.”
Hy maan inwoners om effektief met hul onderskeie buurtwagte te kommunikeer as hulle met vakansie gaan. “Maak kontak met jou buurtwag en laat weet jou bure as jy met vakansie gaan. Dit help dat patrolleerders meer gereeld by daardie huise verby beweeg, sodat dit lyk asof daar meer aktiwiteit by daardie wonings is.” Hy moedig ook inwoners aan om aan te sluit by buurtwagte.
Die hoof van gemeenskapveiligheid by Afriforum, Ian Cameron, waarsku dat mense nie te rustig moet raak nie. “Vir mense wat nie met vakansie gaan nie, is dit belangrik dat hulle nie laks raak nie. Tydens ons Kersvakansie lyk dit asof mense te rustig raak en dit is veral dan dat hulle dink dit sal nie met hulle gebeur nie. Dit skep die ideale geleentheid vir misdadigers om toe te slaan. Skakel die ligte aan op die regte tyd, maak die deure toe en weet presies wat in jou omgewing aangaan,” sê Cameron. – Mark Steenbok 
mark@centralmediagroup.co.za