Geen beserings nadat skote klap vanuit grot

0
181

Niemand is beseer in ‘n voorval op ‘n plaas net buite Kestell nie toe skote op polisiebeamptes vanuit ‘n grot in ‘n bergagtige deel vanoggend gevuur is.

Polisiewoordvoerder, Mmako Mophiring, sê ‘n voorval van poging tot moord word ondersoek nadat ‘n boer omstreeks 01:00 die polisie na sy plaas ontbied het. Die boer het vlamme in ‘n grot gesien. Hy het onraad vermoed.

Polisielede van Bethlehem, lede van die blitspatrollie, die honde- en veediefstal-eenheid, het vinnig gereageer. Dit wou voorkom of daar veediefstal-bedrywighede aan die gang was, sê hy.

Volgens Mophiring het die skote geklap toe polisiebeamptes die grot nader. Hulle het eers ingegaan toe die skietery opgehou het.

Die situasie is bemoeilik omdat dit pikdonker was. Volgens hom moes die booswigte weggehardloop het, want daar was niemand in die grot nie, maar slegs ‘n vuurtjie wat hulle toe geblus het. ‘n Sak met tange is ook gekry.

Mophiring sê die tange word vermoedelik vir die knip van veeheinings gebruik. Hy vra enigiemand met inligting om hul naaste polisiekantoor te bel. – Christal-Lize Muller/Courant-nuus