Gedagte vir die week

0
190
Helen Keller

Helen Keller was blind en doof. Sy het die seer van die lewe geken. Een maal het iemand vir haar gevra: “Helen, wat kan erger wees as om blind gebore te wees?” Sy het geantwoord: “Dit is om oë te hê, sonder om te kan sien!” Dit is die gawe om verder te kan sien, om in die toekoms in te kan droom. In Spreuke 27:19 lees ek: “Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.” Dit is die tyd van die jaar dat ons in die Gereformeerde Kerke die uitstorting van die Heilige Gees gedenk. Ons praat van Pinkstertyd. Juis in die tyd herdenk ons die feit dat die Heilige Gees ons help om verder te kan sien, om te droom oor die toekoms. Juis in dié tyd help die Heilige Gees ons om anders te dink en nuut te fokus op die dinge wat werklik saak maak in die lewe! Dit het my laat dink aan die woorde: “Vrede is nie die afwesigheid van probleme nie, maar vrede is die teenwoordigheid van die Here Jesus.” Hiermee help die Heilige Gees jou en my om te kan sien en om verder te kan kyk as dit wat ons nou voor ons kan sien! – Ds. Stephan van Heerden