Frans van Staden – Bfn se ‘Sweetie Pie’

0
318
Frans van Staden

Met sy besonderse stem en sagte persoonlikheid is Frans van Staden die “sweetie pie” van wie almal hou.
Hy is in die Rosestad gebore en is steeds “vasgegom” hier. “Seker maar die organiese deel van my wat hier vasbrand. Ek kan met ‘n glimlag sê ek is al 29 jaar ‘n Bloemfonteiner,” skerts Van Staden.
Hy het grootgeword met die draadloos wat kliphard speel in die agtergrond, so hy het al van kleins af ‘n oor vir musiek. “Alles het maar begin met n tennisraket en rekkies as my kitaar en ‘n besemstok met ‘n blikkie spuitgoed as my mic-stand en mikrofoon op die ouderdom van 11 en my enigste gehoor die vier mure van my kamer,” vertel hy.
Sy passie vir sing kom van kindsdae. “Musiek praat al met my van kleins af, en ek het begin luister. Ek dink dit is my passie omdat daar ‘n tipe kommunikasie tussen my en die musiek ontwikkel het.”
Van Staden tree ook as platejoggie op en geniet dit as hy ‘n liedjie speel of sing en mense begin dans of saamsing.
Sy genré is kommersiële Afrikaanse musiek, gospel, rock en dan ook natuurlik ‘n paar treffers wat die hartsnare roer.
Van Staden skryf graag en ervaar dit as ontvlugting, of die storie in sy verlede afspeel, of op die oomblik plaasvind. “Elke gebeurtenis het maar ‘n uitwerking op ‘n mens. Die inspirasie kruip daar binne iewers weg en dan vind ek dit,” verduidelik hy.
Sy grootste inspirasie in die bedryf was en is steeds Steve Hofmeyr, terwyl Johhny Cash ook ‘n groot invloed op hom gehad het. “En moenie vir Francois van Coke vergeet nie.”
Sy gunstelingliedjie? “Alannah Myles se ‘Black Velvet’. Moet nie vra hoekom nie. Daardie song voer baie gesprekke met my.”
Wat sy versteekte talente betref, ontdek hy nog af en toe iets. “Liedjie skryf, musiekproduksie en kuns. Die kuns kruip soms net vir my weg,” sê hy.
Van Staden het twee CD’s wat by sy vertonings beskikbaar is. ‘n Paar van sy liedjies is op Soundcloud beskikbaar en sy treffer, “Sweetie Pie”, is op Itunes.
Bedags is hy bestuurder by Cheetah Pub and Grill, Restaurant & Venue. “Ek doen baie gigs daar. So kom maak ‘n draai, kry jou CD en kom stel jouself voor.”

JERETHA OOSTHUIZEN
jeretha@mahareng.co.za