Fischer wen VS-driekamptitel

0
574
Die blinde internasionale atleet, Danie Breitenbach (links), en sy gids, Barry Williams, klim hier uit die water by die Vrystaat-driekampkampioenskap wat Saterdag by Maselspoort beslis is. Dit was Breitenbach se eerste poging in dié sportsoort. FOTO: ADRI VERMAAS

Die oud-skolier van Eunice in Bloemfontein, Carlyn Fischer, het Saterdag op die Vrystaat-driekampkampioenskap wat by Maselspoort buite Bloemfontein beslis is, gewys dat sy gereed maak vir ‘n uithalerseisoen in 2017.

Fischer, een van die land se voorste driekampers in die elite-afdeling vir vroue, het Saterdag in die einste afdeling met ‘n netjiese vertoning vorendag gekom deur die titel in ‘n kookwatertyd van 2:18:59 te wen.

Fischer, wat reeds haar Protea-kleure in driekamp (elite-afdeling) verwerf het en ‘n voormalige Suid-Afrikaanse en Afrika onder 23-kampioen is, het die Rosestad sowat vyf jaar gelede vir Pretoria verlaat om haar LLB-studies te voltooi.

Die goeie nuus is egter dat Fischer terugtrek Bloemfontein toe. Die president van Vrystaat Driekamp, Christa Roestoff, het bevestig dat Fischer reeds by hulle geregistreer het vir die 2017-seisoen en voortaan op nasionale vlak vir die Vrystaat gaan diens doen.

Fischer se ma en afrigter, Lynette, het haarself deeglik laat geld. Sy het die afdeling vir vroue 55 tot 59 jaar in ‘n verdienstelike 2:48:24 beklink.

Die voormalige driekamper op die Olimpiese Spele vir jeugatlete, Jayme-Sue Vermaas, het goud verdien in die afdeling vir junior vroue. Vermaas, wat onlangs haar matriekeksamen afgelê het, het in ‘n skaflike 1:14:43 gewen.

In die seuns o.17-afdeling was die twee Grey-manne, Gean Viljoen en Henro Bender, onderskeidelik eerste en tweede. Nadat hulle skofte van 750m-swem, 20km-fietsry en 5km-hardloop agtereenvolgens afgelê het, kon Viljoen (1:08:09) vir Bender (1:09:18) met net meer as ‘n minuut troef.

Die blinde internasionale middelafstandatleet, Danie Breitenbach, het besluit om sy krag in die driekampsportsoort te toets. Hy het vir Barry Williams as gids nadergetrek en ‘n puik debuut gemaak.

Atlete met fisieke gestremdhede se amptelike skofafstande is 750m swem, 20km fietsry en 5km hardloop. Vrystaat Driekamp het op versoek ingestem dat Breitenbach slegs 300m swem omrede hy nog nie voorheen baie geswem het nie en die swemskof boonop in oop water (Modderrivier) was.

Breitenbach, wat nie skroom om enigiets nuuts aan te pak nie, het die wedloop in 1:10:36 voltooi.

Breitenbach se wilskrag en talent voorspel dat hy selfs in driekamp die wêreld se bestes in die toekoms in sy kategorie vir volkome blinde driekampers kan skrikmaak. – RUFUS BOTHA