Finansies 101: Watter tipe belegger is jy?

0
161
Sien toe dat jou beleggingsportefeulje reg geposisioneer is vir 2017.

Die nuwe jaar het weggespring en graag wens ek alle Courant-lesers ‘n voorspoedige 2017 toe. Mag almal net die beste ervaar. Die jaar 2016 was ‘n jaar met baie onsekerheid, en natuurlik kon almal met beleggings dit aan hul opbrengste sien. Finansiële markte het erg wipplank gery, en ons almal se emosies was op hol wanneer ons beleggingstate oopgemaak het en die swak resultate gesien het.
Daar is heelwat faktore wat bygedra het tot die onsekerhede, en natuurlik kan die swak resultate van 2016 verduidelik word. Nou wat dan van 2017?
Dit is baie moeilik (eintlik onmoontlik) om voorspellings te maak wanneer dit by beleggingsake kom. Wat ek wel weet, is dat dit baie onwaarskynlik is dat 2016 se treurmare gaan voortduur in 2017 en dat daar wel lig aan die einde van die tonnel is. Soos ek einde verlede jaar genoem het, is dit tyd vir vasbyt, rustig bly, en sorg dat jou beleggingsportefeulje reg geposisioneer is vir 2017.
Begin met jou aftreefonds (pensioen-, voorsorg- en selfs uittredingsannuïteitsfonds). Wanneer jy in 2017 by die werk opdaag, kry ‘n opgedateerde staat van jou aftreefonds. Hoe word jou geld belê? Kry die inligting van die beleggingsportefeulje waarin jou geld belê word sodat jy kan sien wat jou blootstelling aan die verskillende bateklasse is.
Natuurlik sal dit jou blootstelling aan beleggingsrisiko bepaal. Is jy gemaklik met die risiko wat jy neem? Beleggers is verskillend en hul toleransie vir beleggingsrisiko is ook verskillend. Moet dus nie net jou pensioengeld gaan belê soos jou kollega langs jou nie; julle het verskillende doelwitte en beleggersprofiele. Gevolglik moet jul geld verskillend belê word. Party aftreefondse bied jou meer beleggingskeuses as ander, en hoe meer keuses daar natuurlik is, hoe groter raak die moontlikheid vir verwarring.
Ek kan vir jou ‘n eenvoudige vraelys aanstuur wat jou sal help om jou toleransie vir beleggingsrisiko te bepaal. Sodra jy weet watter tipe belegger jy is, sal dit makliker wees om ‘n beleggingsportefeulje te identifiseer wat versoenbaar is met jou spesifieke beleggersprofiel en doelwitte.
Stuur vir my ‘n e-pos na horace@nassaux.com, dan stuur ek die vraelys vir jou aan. – Horace Terry